Rocco de Villiers oorrompel met musiek en sjarme

Befaamde pianis, Rocco de Villiers het verlede Donderdag sy gehoor in Polo­kwane op ‘n wipwarit van emosies geneem tydens ‘n konsert wat die Suid-Afrikaanse Tandartsvereni­ging (SADA) Limpopo ten bate van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Polokwane aangebied het. Plaaslike tandarts, Sybrand van Reede van Oudtshoorn het verduidelik dat die doel van die aand tweeledig was; om …

Befaamde pianis, Rocco de Villiers het verlede Donderdag sy gehoor in Polo­kwane op ‘n wipwarit van emosies geneem tydens ‘n konsert wat die Suid-Afrikaanse Tandartsvereni­ging (SADA) Limpopo ten bate van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Polokwane aangebied het.
Plaaslike tandarts, Sybrand van Reede van Oudtshoorn het verduidelik dat die doel van die aand tweeledig was; om mense blootstelling te gee aan goeie musiek en om aan die jonger geslag te wys dat hulle ‘n sosiale verantwoordelikheid het om na te kom.
Anneliese Bothma, SAVF-bestuurder, het aan die gehoor verduidelik hoe die SAVF in Polo­kwane by die Martha Hofmeyr Ouetehuis ‘n verskil maak.
“Baie van ons inwoners kry net ‘n staatspensioen en die SAVF moet die meeste van die noodsaaklike goed wat hulle nodig het aankoop.”
Geklee in ‘n swart en pers damaskbaadjie met ‘n wit en swart polkakolbroek het De Villiers die gehoor uit die palm van sy hand laat eet.
Sommer met die intrapslag het hy gesê mense is welkom om foto’s te neem, maar dat hy ook professionele foto’s op sy Facebook- en webblad het indien iemand sou belangstel. “Ons Photoshop vir my totdat ek soos Cher lyk, maar wie wil nou lelike foto’s agterlaat as hulle die dag doodgaan?”
‘n Groot gunsteling was een van sy eie komposisies, ‘Roccobilly’, wat hy gespeel het nadat hy na homself as ‘n Vrystaatse ‘hillbilly’ verwys het. “Moenie geflous word deur die uitrusting nie, ek is eintlik vreeslik kômmin,” het hy tong-in-die-kies gesê.
De Villiers het sy aanhangers vir hul ondersteuning bedank.
“My laaste vyf albums het elkeen meer as 50 000 eksemplare per jaar verkoop en my uitgewer het my laat weet dat ek, naas die bekende Jazz-pianis Abdullah Ibrahim, die instrumentele kunstenaar is wat die meeste albums ooit in Suid-Afrika verkoop het.”
Die gehoor het ‘n spesiale eer te beurt geval om die eerste te wees om sy weergawe van ‘Amazing Grace’ te hoor nadat hy dit gedurende die vorige week opgeneem het. Hierdie lied en ander geestelike liedere sal in September op sy nuwe CD, Beautiful Beautiful Hymns, beskikbaar wees.
Net voordat hy ‘How great Thou art’ gespeel het, het De Villiers aan die gehoor vertel dat hy vir dekades lank gedink het dat mens net ‘n spirituele ervaring in die kerk kan beleef, maar dat hy deesdae baie meer sulke ervarings in die natuur beleef. “Wanneer ek die perfeksie in die kleinste vygie sien, is dit vir my duidelik dat daar iets groots en onverstaanbaar aan die skepping is. Ons kan dit nie beheer nie, ons kan net sê ‘Hoe groot is U’.”
Hy het ‘Lara’s Theme’ uit die fliek, Doctor Zhivago aan geliefde en bekende tandarts, Nic van Reede van Oudtshoorn opgedra en uiteindelik sy konsert met Music Box Dancer .
Met die woorde van Min Shaw het De Villiers die konsert afgesluit. “Totsiens, maar nie vaarwel. Sien jul weer. Daar is altyd nog ‘n keer.”

Storie: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Jare lange vriende, Janiel en Manie Lambrechts en De Villiers.
Sandra en Dirk de Lange het die konsert terdeë geniet.
Talia Lansdell en Lone de Wet, leerders van Curro Heuwelkruin oorhandig rose aan De Villiers.
Andre du Plessis en De Villiers deel ‘n besondere liefde vir musiek.
Exit mobile version