Local NewsNews

Plaaslike sakeman tydens rooftog geskiet

Peet Visagie, ’n Polokwane-inwoner en sakeman in die skrootbedryf het verlede Donderdag ternouernood aan die dood ontkom toe drie rowers hom in Doornpoort, Pretoria wou beroof en hy geskiet is. “Al is jy ’n man wat dink jy is sterk genoeg om so iets te verwerk, is dit nie so maklik nie,” sê Visagie wat …

Peet Visagie, ’n Polokwane-inwoner en sakeman in die skrootbedryf het verlede Donderdag ternouernood aan die dood ontkom toe drie rowers hom in Doornpoort, Pretoria wou beroof en hy geskiet is.
“Al is jy ’n man wat dink jy is sterk genoeg om so iets te verwerk, is dit nie so maklik nie,” sê Visagie wat Maandag vir berading gegaan het.
“Ek kom gereeld in Pretoria en het Donderdag by ‘n bank in die Kolonnade-sentrum ’n groot bedrag geld getrek om ‘n subkontrakteur te betaal. Nadat ek by ‘n motoronderdelewinkel gestop het om ‘n brandstoftenkklep vir my bakkie te koop, is ek na my vriend se huis waar ek die betaling sou doen,” sê Visagie.
Met sy aankoms het hy in die bakkie bly sit om ’n selfoonoproep af te handel toe drie mans toegeslaan het en die bakkie se deur oopgeruk het.
“Hulle het heeltyd gesê hulle soek die geld, waarop ek geantwoord het dat ek alles by die motoronderdelewinkel afgegee het. Hulle wou my nie glo nie. Die een het heeltyd ’n rewolwer op my gerig. Dit het deur my gedagtes gegaan dat dit dalk nie ’n regte vuurwapen is nie en ek het uitgeklim en om hulp begin roep,” sê hy.
Die rowers het senuagtig geraak en terselfdertyd het sy vriend se vriendin en haar dogter asook die huishulp by die huis uitgestorm en alarm gemaak.
Visagie het sy kans waargeneem om die gewapende rower met die bakkie se deur te stamp.
“Ek het in die bakkie geklim, maar hulle het die sleutel gevat. My bakkie se vensters het donker sonbeskerming op en hulle kon glad nie insien nie. Een het toe ’n skoot deur die venster afgevuur, vermoedelik om my dood te skiet, omdat hulle poging om my te beroof nie geslaag het nie,” sê Visagie.
Voordat die mans in die wegkomvoertuig gevlug het, het een omgedraai en nog ‘n skoot geskiet wat in die bakkie se bakklap vasgeslaan het.
“Etlike sekondes nadat hulle gevlug het, het ek die brandpyn in my lae abdominale area gevoel. Die koeël het my gordelgespe getref, my lyf deurdring en in my agterbeen vasgeslaan,” sê hy.
Visagie se vrou, Ansu sê dit is net genade dat die koeël geen skade aan enige weefsel, senuwees of are veroorsaak het nie.
“Dit is ’n wonderwerk. Dit kon baie erger gewees het. As die koeël die hoofslagaar in sy lies getref het, was my man verseker dood. Die gordelgespe het ook gehelp,” sê sy.
Visagie sou na verwagting vandag (Donderdag) in Pretoria geopereer word om die koeël te verwyder.
Die voorval het definitief ‘n impak op die gesin se lewens gehad. “Ek het besef ‘n mens moet meer paraat en oplettend wees. Dit gebeur so vinnig,” sê Visagie.
Hulle het die gemeenskapspolisiëringsforum van Doornpoort sowel as ER24 bedank vir hul vinnige optrede. “Hulle diens was puik. Binne minute was daar baie mense op die toneel om te help,” sê Visagie.
Volgens hom is nog geen arrestasie in die verband gemaak nie. Gauteng polisiewoordvoerder, Lungelo Dlamini kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button