Ouma Jessie vier 99ste verjaardag

Die 99-jarige Jessie van der Walt het Saterdag haar verjaardag in styl gevier met ‘n verrassingspartytjie wat deur die Charisma Gemeente in die stad en haar skoondogter, Santjie gereël is. Van der Walt is nog helder van verstand en gesond, drink net nou en dan ‘n aspirien en lees haar Bybel nog elke dag sonder …

Die 99-jarige Jessie van der Walt het Saterdag haar verjaardag in styl gevier met ‘n verrassingspartytjie wat deur die Charisma Gemeente in die stad en haar skoondogter, Santjie gereël is.
Van der Walt is nog helder van verstand en gesond, drink net nou en dan ‘n aspirien en lees haar Bybel nog elke dag sonder ‘n bril (nie grootdruk nie). “Dis net saans wat ek met my bril lees,” vertel sy.
Die statige vrou loop nog sonder hulp in die huis rond, maar wanneer sy na buite gaan verkies sy dat iemand maar liefs saamloop en haar ondersteun. Haar gehoor pla so effens, maar net as mense nie naby genoeg aan haar staan nie.
Sy was ‘n nooi Dickson, een van ses kinders, en is in Nama-kwaland gebore. Twee van haar sibbe is al oorlede.
Sy het haar man, Tjaart wat in 2002 oorlede is, ontmoet toe sy op Springbok in die poskantoor gewerk het en hy ‘n landdros was.
Na hulle troue het sy ook in die hof gewerk, want getroude vrouens is nie destyds toegelaat om in die poskantoor te werk nie.
Die egpaar het vier kinders, een dogter en drie seuns, gehad. Die dogter, Marina is 11 jaar gelede oorlede.
Van der Walt vertel dat die gesin weens haar man se werk baie rondgetrek het. Na sy aftrede het hulle hulself op Paradysstrand gevestig, maar hy is dikwels gevra om op ander
plekke af te los. Sy het maar altyd saamgegaan.
Die egpaar het ook graag gereis en dikwels by haar suster, Ena Jekell wat in Kanada woon, gaan kuier. “Sy is nege jaar jonger as ek en het sowat twee maande gelede geval en haar heup gebreek.”
Die Van der Walts het in 1999 na Polokwane verhuis weens Tjaart se swak gesondheid, en het by haar oudste seun, Chris en Santjie, ingewoon.
“In 2002 is hy in die hospitaal opgeneem weens ‘n tekort aan suurstof tydens ‘n kragonderbreking. Sy longe was swak en hy moes gereeld suurstof kry. Hy het nooit weer uit die hospitaal gekom nie,” vertel sy.
Die hupse oumagrootjie vertel dat sy nie ‘n spesifieke geheim het om so oud te word nie: dis maar in haar familie se gene. Haar ouma aan vaderskant is ‘n week voordat sy 101 jaar oud geword het oorlede, en haar ouma aan moederskant het 99 jaar oud geword. Sy eet gesond en geniet saans ‘n goeie bord boerekos.
Hoewel sy baie veranderinge in haar lewe beleef het, was die swaarste om weer alleen te wees na haar man se dood. Sy is baie lief vir lees en het gedurig ‘n boek byderhand wat die eensaamheid verjaag.
Sy het agt agterkleinkinders en is bly sy kan op haar oudag by haar kinders wees.
Haar kleinkinders dreig om haar vir ‘n valskermsprong en dan na ‘n klub te neem om te gaan ‘rave’ wanneer sy volgende jaar 100 jaar oud word. Sy skud maar net haar kop oor hulle lawwigheid.

NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Chris van der Walt, Ouma Jessie se seun steek die kersies aan op haar verjaarsdagkoek.
‘n Goeie vriend, Jan Esterhuizen wens Ouma Jessie Saterdag geluk met haar verjaarsdag.
Exit mobile version