Bejaarde se lyk na maand gevind

Verlede week se operasie om die erg ontbinde lyk van ‘n bejaarde man in die bergagtige gebied buite Groblersdal te verwyder, is slegs een van talle soortgelyke sake wat maandeliks deur die polisie ondersoek word. Die man se lyk is vermoedelik deur verbygangers gesien en die polisie se soek- en reddingseenheid is verlede Vrydag ingeroep. …

Verlede week se operasie om die erg ontbinde lyk van ‘n bejaarde man in die bergagtige gebied buite Groblersdal te verwyder, is slegs een van talle soortgelyke sake wat maandeliks deur die polisie ondersoek word.
Die man se lyk is vermoedelik deur verbygangers gesien en die polisie se soek- en reddingseenheid is verlede Vrydag ingeroep. Lede van Mogalakwena Myn se reddingspan, Emergency Medical Services (EMS) sowel as die polisie se plaaslike lugvleuel het hand bygesit om die liggaam op te spoor en te verwyder.
Op die toneel, wat slegs te voet, deur viertrekvoertuie of per helikopter bereik kon word, het die polisie se soek- en reddings­eenheid-bevelvoerder, Wessie Wessels gesê die bejaarde man het vermoedelik ‘n maand gelede reeds omgekom. Die lugvleuel is ingeroep omdat die pad ontoeganklik was. Die helikopter is in swaar reën ingespan om reddingspersoneel in die kloof in te neem.
“Die man is nog nie geïdentifiseer nie en as gevolg van die toestand van die liggaam gaan dit nie ‘n maklike taak wees nie. ‘n Beroep sal op die nabygeleë gemeenskappe gedoen word om die lyk uit te ken,” sê Wessels.
Hy sê die reddingseenheid is maandeliks met minstens tien sake besig waar mense gesoek of vermiste persone se lyke gevind en verwyder moet word.
“Dit is net ernstige sake wat aan die reddingspan oorhandig word en sluit die kleiner sake van vermiste persone wat daagliks by polisiestasies in die provinsie aangemeld word uit. Die reddingspan is reeds in dieselfde gebied besig met ‘n tweede soektog nadat nog ‘n persoon as vermis aangemeld is. Die helikopter sal na verwagting vandag (Donderdag) weer gebruik word om die gebied te fynkam,” het Wessels Dinsdag gesê.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto het bevestig dat sake van vermiste persone gereeld regoor die provinsie aangemeld word.
“Ons is veral bekommerd oor die toenemende voorvalle van kinders wat vermis raak. Daar is nie veel wat gedoen kan word om sulke gevalle te verminder nie. Ons kan slegs persone maan om altyd in kontak met familie of vriende te bly. Sê vir iemand waarheen jy op pad is, watter pad of roete jy gaan volg en hoe laat jy min of meer sal terug wees,” sê Otto.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version