Osie-hoof is ‘tuis’

In Junie vanjaar is 'n jarelange droom van Gideon Pelzer en sy vrou, Ingrid, verwesenlik met die nuus dat hy as Oosskool-hoof aangestel is.

POLOKWANE – In Junie vanjaar is ‘n jarelange droom van Gideon Pelzer en sy vrou, Ingrid, verwesenlik met die nuus dat hy as Oosskool-hoof aangestel is.

Dié gesin het hul terugkeer Polokwane toe reeds ‘n paar jaar in die visier.

“Ons het Polokwane in Oktober 2006 vir Hoedspruit verruil, waar ek skoolhoof by Laerskool Drakensig was. Die terugkeer was deel van my en Ingrid se vyfjaarplan.”

Hy vertel die Here het egter ander planne gehad en hulle het langer vertoef as wat hulle aanvanklik beplan het.

“Hy het ons gebede beantwoord en hier is ons nou, terug in Polokwane.”

Gideon het in die hart van Johannesburg grootgeword en ook daar skoolgegaan. Hy matrikuleer aan Hoërskool Hugenote en verwerf daarna ‘n onderwysdiploma aan die Normaal Kollega Pretoria.

Hy is tans besig met ‘n honneurs-graad in hoër onderwys deur die Noordwes Universiteit.

Sy eerste pos as onderwyser was by Laerskool Ivypark en daarna is hy na Laerskool Pietersburg (Suidskool) waar hy wiskunde aangebied het.

Na 10 jaar as onderwyser het hy die hoofpos by Laerskool Drakensig aanvaar waar hy ook lewensoriëntering vir die gr. 7’s aangebied het.

Sy onmiddellike planne?

“Aanvanklik wil ek eers net my pos as Oosskoolhoof volstaan. Ek wil egter graag weer as onderwyser ook betrokke raak. Dit is in die klas waar mens ‘n verskil maak.

“Persoonlik is daar nou die uitdaging dat my twee meisiekinders en Ingrid in Hoedspruit moes agterbly. Die kinders moet die jaar daar voltooi en ons hoop om vir Ingrid ‘n pos in Polokwane te kry as gr. 1-onderwyser. Ek moet myself ook weer vestig.

“Professioneel is my uitdaging om die werking van die skool te verstaan. Elke skool is anders en ek wil so gou moontlik deel word van die skool. Ek wil die gemeenskap dien.”

“Dit was goed om my kinders aan Hoedspruit bekend te stel, maar ons toekoms is in Polokwane. My hart is hier.”

Peet Bredenkamp, skoolhoof van Suidskool vertel dat Gideon voor hom grootgeword het en ‘n gebore onderwyser is. “Ek glo hy gaan ‘n suksesvolle hoof wees en ek wens hom alle sterkte toe,” sê Peet.

 

Oud-Polokwaniër aangestel as nuwe Osie-hoof

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version