Bosveld NewsNews

Binne die dramabedryf is daar vele opsies

OM in die dramabedryf te oorleef verg nie net harde en lang ure nie, maar ook entrepeneurskap, kreatiwiteit en n dik vel, sê die akteur, Kaz McFadden wat onder meer bekend is vir sy rolle in die rolprente, Strikdas en Knysna, asook as Dewald in die televisie sepie, Sewende Laan.

MOKOPANE – OM in die dramabedryf te oorleef verg nie net harde en lang ure nie, maar ook entrepeneurskap, kreatiwiteit en n dik vel, sê die akteur, Kaz McFadden wat onder meer bekend is vir sy rolle in die rolprente, Strikdas en Knysna, asook as Dewald in die televisie sepie, Sewende Laan.

Bosveld het met hom en sy meisie, Lara Lourens wat deesdae agter die skerms in die dramabedryf werk, gesels om voornemende akteurs en regisseurs ‘n blik te gee oor loopbaangeleenthede in die bedryf.

Wat behels ‘n loopbaan in die dramabedryf?

Kaz: Die opsies is eintlik legio. Natuurlik is daar die meer bekende dramarigtings om in te slaan soos akteur en regisseur maar daar is veel meer loopbaanopsies agter die skerms. Daar is byvoorbeeld ‘n kinematograaf wat besluite moet neem oor die beligting en kameraposisies. Hy bepaal hoe die film lyk. Dan is daar die draaiboekskrywer, kameraman en die beligtingsontwerper. Daar is ook vele ander loopbane waarvan mens nooit hoor nie soos die “gaffer” wat fisies die ligte op stel hanteer en die “grip” wat verantwoordelik is vir die opstel van al die gereedskap. Daar is ook die “sparkies” wat ‘n gevorderde elektrisiën is. Die assistent-regisseur slaan die sweep en beheer die vloei, terwyl die “script supervisor” seker maak dat die kontinuiteit van die toneel en teks volg. Daar is ook redigeerders of “editors” binne daardie department wat met die taal en skryfwerk te doen het.

Lara: Ek het besluit om na matriek drama te studeer omdat ek van kleins-af ‘n passie daarvoor ontwikkel het. Ek hou daarvan om stories te vertel en mense te beïnvloed, soms sonder dat hul dit agterkom. Films en televisie het ‘n groot invloed op ons denke en ontwikkeling en nie net tydens ons vormingsjare nie, maar regdeur ons lewens. Ek het die eerste keer bewus geraak van teks en regie toe ek as tiener Woody Allen se rolprent “Vicky Cristina Barcelona” gekyk het. Allen se styl is so uniek en opvallend. Ek het net daar besluit ek wil eendag soos hy wees. Dit was eers tydens my studies dat ek bewus geword van al die verskillende beroepe binne die bedryf. Ek was vir lank ‘n verhoogbestuurder vir verskeie toneelstukke vir die Nomad-teatergroep. Dit was ‘n ongelooflike verrykende ervaring. Ek moes help stel bou, “strike” na die vertoning, akteurs help as hul vashak met woorde tydens repetisies, bemarking doen, rekwisiete kry en oefentye vasmaak. Tans werk ek voltyds by die televisiesepie, Binnelanders, as deel van hul produksiespan. Ek het ook al kleiner rolle vertolk in sepies soos Sewende Laan en in verskeie teaterstukke gepeel.Ek is egter op my gemak agter die kameras en gefasineer met die proses agter die finale produk.

Watse eienskappe of kwaliteite moet n mens hê sou jy in die rigting belang stel?

Kaz: Verseker ‘n dik vel. Mense is maar nou een maal lief om komentaar te lewer oor hoe jy lyk en of jy goed of swak speel. Iets wat baie belangrik is, is ‘n kreatiewe brein. ‘n Akteur moet wyd lees want dis al hoe jy nuwe wêrelde en persoonlikhede kan ontdek. Natuurlik moet jy kan praat. In ‘n moderne lewe sal ‘n mens verbaas wees hoeveel mense het spraakgebrekke. Die meeste daarvan kan reg gemaak word, so as jy kan, doen dit.

Lara: Daar is soveel verskillende persoonlikhede in die dramabedryf. Die stereotipiese “drama queen” is vir my ‘n valse konsep wat mense het. Enigeen kan drama studeer, maar jy moet baie gedisiplineerd wees. Die loopbaan behels harde werk, lang ongewone ure en baie uithouvermoë. Jy kort ook bietjie van ‘n harde vel want mense wat in die bedryf werk is baie reguit en jy word gereeld gekritiseer. Meeste mense dink ook my werk is net kreatief, maar dit behels ook ongelooflik baie “linkerbrein” werk.

Waar kan jy studeer?

Kaz: Daar is deesdae baie verskillende loopbaangeleenthede in die bedryf. Let op hoeveel mense wat by die betrokke inrigting studeer al iewers gekom het in die bedryf. Hoe meer mense van daardie instelling in die bedryf werk, hoe beter vir jou wat moet kies. Ek het byvoorbeeld oorspronklik by die Performing Arts Lifestyle Institute (Pali) studeer wat onlangs met Open Window in Centurion saamgesmelt het. Ek kan Pali met ‘n oop hart aanbeveel.

Lara: Ek het verlede jaar klaar gemaak met my drie jaar kursus by Pali. By Pali het ek ontsettend baie praktiese ondervinding opgedoen wat my ‘n voorsprong gegee het teenoor studente van meer “akademiese” instansies. Die lektore het ook eerstehandse ondervinding van die bedryf wat ‘n groot pluspunt is want hulle is baie eerlik en maak seker jy gaan met oop oë jou loopbaan aanpak.

Hoe lyk ‘n akteur se dag op die stel van n sepie?

Kaz: Vervelig. Haha! Daar word baie gewag en daar is gewoonlik ‘n geskarrel om gegrimeer te word, jou hare gedoen te kry en jou kostuum aan te trek. Dan wag jy en dit kan lank vat. Die ure is lank, jy kan maklik van 07:30 tot 18:30 op stel wees. Ek geniet films baie. Jy skiet altyd op ‘n nuwe plek en bly gewoonlik besig, natuurlik afhangend hoe groot jou rol is. Teater is heerlik want repetisies is gewoonlik konstant so daar’s altyd iets om aan te werk.

Lara: Ek het so vyf maande terug voltyds by Binnelanders begin werk en moet al soggens 07:00 op stel wees. Ek begin deur die nuutste skedule uit te gee aan almal op stel en dan die ekstra spelers wat benodig word, te boek. Ek analiseer die tekse vir die verskillende departemente en breek dit in kolomme op sodat almal kan voorberei vir elke toneel wat geskiet moet word. Ek stuur ook “shooting scrips” uit. Dis alles wat ons skiet met die vloerplan en regisseur se beplanning in gedagte. Ek moet ook op die stel bly tot ons klaar geskiet het en dit beteken ek gaan soms na 19:00 huistoe.

Hoe oorleef ‘n mens in die Suid-Afrikaanse damabedryf?

Kaz: Harde werk. Onthou, hoe meer jy doen hoe meer kan jy verdien. Dit help nie om by die huis te sit en te wag vir jou foon om te lui nie. Sit jou eie toneelstuk aan die gang, skryf ‘n film, maar bly besig. Die meeste suksesvolle mense in ons bedryf skep hul eie werk. As jy iets anders kry is dit ‘n bonus.

Lara: Jy moet soveel “skills” moontlik hê en elke geleentheid gebruik vir ekstra ondervinding. Jy kan nie meer net “act” of net skryf nie, of nie bereid wees om iets nuut te probeer nie. Hoe meer jy kan doen, hoe meer werk kan jy kry. Entrepreneursvaardighede is belangrik. Wanneer jy nie werk kry in die bedryf nie, moet jy kan werk skep. Gelukkig het Pali ‘n wonderlike besigheidskursus wat my geleer het om geleenthede raak te sien en aan te gryp. Die realiteit is jy kan nie drama studeer vir die geld nie, want dan gaan jy nie skatryk word nie. Die kuns is eerder om geleenthede vir jouself te skep om vooruit te gaan.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button