Wyne, sirkus en rofstoeiers is nuwighede by KKKF

KOM proe die top wyne van ses wynkelders in die wyntuin en sien ook hoe 'n groep rofstoeiers mekaar laat les opsê by vanjaar se Kierieklapperkunstefees (KKKF).

MOKOPANE – KOM proe die top wyne van ses wynkelders in die wyntuin en sien ook hoe ‘n groep rofstoeiers mekaar laat les opsê by vanjaar se Kierieklapperkunstefees (KKKF).

Die voggies van Lanzerac, Altydgedacht, Morgenhof, Glen Carlou, Rietvallei en Spier behoort groot byval te vind by die feesgangers, sê Estelle Hartzenberg, bestuurder van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes. Die KKKF is die Dienssentrum se grootste fondsinsamelingsprojek en word vanjaar vir die 15de keer gehou.

Vir lafenis en agteroorsit kan die feesgangers kom teug aan ‘n glas wyn vir net R50 en ‘n knibbelbordjie wat bestaan uit eetgoed verskaf deur Enterprise, Klipspringer biltong en Laharna olywe.

Alle besoekers aan die wyntuin staan ook ‘n kans om ‘n wegbreek-naweek vir twee te wen wat geborg word deur Lanzerac.

Dit is egter nie al wat feesgangers in die wyntuin kan verwag nie. Chops & Chives gaan heerlike spitbraai etes verkoop en Renate Sonnekus stal haar kunswerke vanjaar uit. Saterdagoggend tussen 11:00 en 12:00 kan daar geluister word na die musiek van die 1925-Band, wie ook op die buiteverhoog net voor Bobby van Jaarsveld gaan optree. Die wyntuin is beslis die plek waar daar rustig gekuier kan word voordat n mens weer rondkruie tussen al die stalletjies.

Vir die meer adrenalien-verslaafdes bied die KKKF op Saterdag, 8 Augustus, vanaf 15:30 iets nuuts aan.

Altesaam 14 bekendes in die rofstoei-kringe gaan die feesgangers vermaak met ‘n spesiale vertoning.

Die KKKF-komitee het ‘n voëltjie hoor fluit dat hierdie rofstoeiers dink hulle is groter en sterker as Limpopo se boere. Komaan boere, kom bewys die teendeel!

Die WOW Mini-sirkus gaan die hele gesin vermaak met toertjies uit die boonste rakke. Tussen vertonings gaan hulle ook ddie feesgangers op die feesterrein betower met hul toertjies, ballonkuns, en gesigverf vir die kleinspan.

Die toegangsfooie vir die feesbedrywighede van 6 – 8 Augustus op Hoërskool Piet Potgieter se rugbyveld, is as volg: Donderdag (R50), Vrydag (R80) en Saterdag (R80). ‘n Spesiale 3-dag feestoegang van R180 vir volwassenes en hoërskool kinders. Kinders: R40 per dag of ‘n spesiale 3-dag feestoegang van net R100. Hoop om almal daar te sien!

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version