KOLLIG: Inkomsteplan: Ja of nee?

DIE afgelope twee weke het twee voornemende kliënte ons kantoor besoek. Die een ‘n weduwee, en die ander ‘n professionele persoon wat nou gaan aftree.

DIE afgelope twee weke het twee voornemende kliënte ons kantoor besoek. Die een ‘n weduwee, en die ander ‘n professionele persoon wat nou gaan aftree. Eersgenoemde het op advies van haar makelaar al haar geld op ‘n gewaarborgde inkomsteplan belê oor ‘n vyf jaar termyn. Die inkomste word voorsien uit ‘n jaargeld wat maandeliks die kapitaal en rente betaal en na 60 maande is die geld klaar. ‘n Ander deel is in ‘n uitkeerpolis belê wat ‘n gewaarborgde uitkeer lewer gelyk aan die aanvanklike totale beleggingskapitaal.
Ons het gaan vergelyk : die koerse en opbrengste van die gewaarborgde plan met die samestelling van ‘n portefeulje in verskillende fondse waar in al die bateklasse (kontant, effekte, eiendom en aandele) belê word en konserwatiewe aannames gemaak word oor groei potensiaal. Ons het ook die kostes vergelyk en belastingimpliaksies in ag geneem.
Die volgende is bevind :
Indien die kapitaal sonder aftrekking van die voorafkommissie, in die eerste instansie in ‘n goed-beplande beleggingsportefeulje oor alle bateklasse met goeie risikoverspreiding belê was, sou haar kapitaal met 5% per jaar gegroei het terwyl sy dieselfde na-belaste inkomste sou ontvang het. Waarom dan ‘n waarborg uitneem? Soms is dit nodig om ‘n “waarborgplan” te oorweeg, maar meeste van die tyd is dit nie nodig nie en beperk dit mens se groei op jou kapitaal.
Ons advies aan die genoemde professionele persoon wat ook by ons kom draai het was :
Indien jy nie meer as so 6% per jaar van jou kapitaal uit ‘n beleggingsportefeulje (van gekose fondsbestuurders) vir ‘n inkomste hoef te onttrek nie, moet jy liefs nie gewaarborgde produkte oorweeg nie. ‘n Waarborg kos baie geld en die aanvangskommissie van die makelaar, vat ‘n hap wat jy moeilik gaan terugkry.
Die weduwee het 6.75% gewaarborgde groei op die uitkeerpolis ontvang terwyl sy tot 12% op ‘n beleggingsportefeulje kan kry. Almal weet markte kan val, maar met die korrekte beplanning en inagname van al ‘n kliënt se omstandighede en behoeftes is ‘n waarborg nie nodig nie. Die weduwee is 62 en haar lewensverwagting minstens 20 jaar – die waarborg kan haar, as gevolg van inflasie wat geld se waarde oor tye verminder, duur te staan kom.
In vandag se tye is daar eintlik nie regtig meer iets soos ‘n waarborg nie. Groot banke en bouverenigings het al geval en sal weer val. Laat goeie beplanning, ‘n beleggingstrategie en diversifikasie jou “waarborg” wees.
Tot volgende keer,
Groetnis
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by 015 491 2020 / 082 881 4672 of psgk@mweb.co.za

Exit mobile version