Mandela DayNews

Klub maak ‘n verskil in tiener se lewe

Om hulle 67 minute aan die gemeenskap te gee en deel te wees van Nelson Mandeladag, het die Westenburg Rugbyklub Saterdag 'n skootrekenaar aan 'n tienerseun van Westenburg geskenk.

POLOKWANE – Om hulle 67 minute aan die gemeenskap te gee en deel te wees van Nelson Mandeladag, het die Westenburg Rugbyklub Saterdag ‘n skootrekenaar aan ‘n tienerseun van Westenburg geskenk.

Nolan Adapears (13) is in 2008 deur ‘n hond in die gesig en bolyf gebyt.

Die familie kon nie al die mediese koste betaal nie en die rugbyklub het besluit om die gesin te help.

Die klub het onlangs die uitstaande mediese koste betaal, en met die geld wat oorgebly het, het die klub besluit om vir Nolan ‘n geskenk te koop. Hulle het gevra dat hy ‘n brief moet skryf met ‘n paar idees oor wat hy graag wil hê.

Nolan het in sy brief vir ‘n skootrekenaar gevra.

“Ek wil graag ‘n skootrekenaar hê sodat ek my take kan tik en ook navorsing doen vir my projekte,” het hy gesê.

Toe die klub Saterdag die skootrekenaar aan hom oorhandig, was Nolan baie opgewonde en kon nie genoeg dankie sê nie.

Die klub het nie net vir hom ‘n skootrekenaar gegee nie, hulle het ook ‘n modem met 12 maande toegang tot die internet ook vir hom gegee.

Voorsitter van die klub, Francois Hartlief, sê: “Dit was vir my ‘n trotse oomblik en ‘n riem onder elkeen van ons se harte toe Nolan vra vir ‘n skootrekenaar sodat hy sy skoolwerk kan doen. Hy kon enige iets vra, maar hy vra toe iets wat vir hom ‘n groot voordeel in sy lewe gaan wees. Dit bou ‘n mens op om te weet daar is ‘n jongman in ons gemeenskap wat ernstig is oor sy skoolwerk. Ek sien ‘n blink toekoms wat vir hom voorlê.

“Dit help nie hy het ‘n skootrekenaar maar kan niks daarmee doen nie, daarom het ons besluit om ook vir hom ‘n modem en internettoegang vir ‘n jaar te gee.”

Sy ouers, David en Martina was baie bly en het die klub bedank.

“Dit is goed om te weet daar is nog mense in ons gemeenskap wat omgee vir ander. Baie dankie vir dit wat julle vir ons familie gedoen het, ons waardeer dit regtig baie,” het hulle gesê.

Lede van die klub het ook 67 minute van hulle tyd afgestaan om vir Nolan te wys hoe die skootrekenaar werk en hoe hy lugtyd op die modem kan laai.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button