Local NewsNews

‘Sy het nou die wedloop van haar lewe voltooi,’ sê Stefan Steyn

Hanlie Steyn, eggenote van Polokwane se bekende en beminde blinde ultramarathon-atleet, Stefan, is Dinsdag in die vroeë oggendure na ‘n jarelange en moedige stryd teen kanker oorlede. Sy was 52 jaar oud. Haar geveg teen die siekte het reeds in 2001 begin, toe Stefan besig was om sy sig stelselmatig te verloor en hul jongste …

Hanlie Steyn, eggenote van Polokwane se bekende en beminde blinde ultramarathon-atleet, Stefan, is Dinsdag in die vroeë oggendure na ‘n jarelange en moedige stryd teen kanker oorlede. Sy was 52 jaar oud.
Haar geveg teen die siekte het reeds in 2001 begin, toe Stefan besig was om sy sig stelselmatig te verloor en hul jongste kind, Armand, net ses maande oud was.
“Met haar borskanker en my kwynende sig het ons in daardie stadium gedink ons staan voor die grootste opdraendestryd van ons lewe, maar dit was niks teen wat voorgelê het nie,” sê Stefan. Die egpaar het mekaar in hul studentedae op Potchefstroom ontmoet waar sy aptekerswese en hy in die regte gestudeer het.
Chemoterapie, bestraling en ‘n mastektomie het gevolg waarna Hanlie vir ses jaar tot 2009 in remissie was. Stefan onthou hoe ‘n groot terugslag hul gesin presies ‘n week nadat hy sy eerste Bill Rowan-medalje daardie jaar in Junie ontvang het, getref het toe sy haar bewussyn by die werk as apteekbestuurder by die privaathospitaal, nou Mediclinic Limpopo, verloor en breingewasse ontdek is. Haar prognose was toe ‘n skrale ses tot agtien maande.
Sy het daarna verskeie operasies, ‘n volbreinbestraling asook chemoterapie ondergaan om tyd te koop.
Stefan meen dit is hier waar ‘n wonderwerk begin het en hul as gesin nog ses jaar saam gegun is.
“Ten spyte van die stelselmatige verspreiding van kanker en uitsaaiings na haar hele liggaam, het sy aanhou veg. Háár Comrades het daardie jaar begin en is dié week met haar dood voltooi,” sê hy en voeg by dat sy dit met onderskeiding gedoen het. Ons was van hier af nog ses jaar vir mekaar gegun.”
In die middel van 2014 het Hanlie weer nuwe gewasse gekry en het die gesin besef daar is niks meer wat vir haar gedoen kon word nie. Ten spyte hiervan het sy ‘n laaste operasie in Januarie 2015 ondergaan waartydens ses gewasse verwyder is. Vanaf Maart vanjaar het sy stelselmatig agteruitgegaan en slegs simptomatiese behandeling ontvang.
Stefan sê sy vrou se begeerte was om so lank moontlik by die huis te bly. Haar suster, Martie, ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige van Nieu-Seeland het haar voltyds sedert Mei vanjaar saam met ander familielede verpleeg. “Sy het het in groot vrede en rustigheid gesterf en was gereed om te gaan,” sê Stefan.
Hy het sy dank aan sy familie en vriende en veral die lede van Polokwane Atletiekklub vir hul onbaatsugtige ondersteuning uitgespreek.
Hanlie se beste vriendin, Anet van Reede van Oudtshoorn sê: “Ek het soveel bewondering en respek vir Hanlie gehad omdat ek baie by haar geleer het en sy so graag wou leef ter wille van Stefan en die kinders. Sy het nooit gekla nie en was in alle opsigte ‘n voorbeeld van hoe mens ‘n ernstige siekte moet hanteer.”
Guppy Wilkinson, drafmaat van Stefan en vriend sê: “Hanlie was ‘n opregte, hulpvaardige en warm mens wat haar siekte so goed hanteer het.”
Die begrafnis vind Maandag om 11:00 vanuit die AGS Taberna Dei Moederkampus op die hoek van Potgieterlaan en Websterstraat plaas. Benewens Stefan en Armand,‘n gr 10-leerder aan Curro Heuwelkruin, word sy ook oorleef deur Dévan, ‘n eerstejaar Tuks-rekenaarstudent, en Johandi, ’n derdejaar mediese student ook aan Tuks.
Oor die pad wat voorlê, sê Stefan hy sal altyd sy vrou se groen oë en glimlag mis en daagliks haar sagte gees en wonderlike moederskap vir haar kinders in herinnering roep. Hy beoog om ‘n voltydse bestuurder aan te stel om oor die weg te kom in die dol verkeer.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button