Agtjarige raap gesogte titel voor 70 ander se neuse weg

Die agtjarige Wilita Lee het Saterdagaand stof in verskeie ervare modelle se oë geskop toe sy as die Miss Polokwane Observer Cover Girl 2015 aangewys is. Die finaal van die skoonheidskompetisie is Saterdagaand by Meropa Casino & Entertainment World aangebied en Wilita het meer as 70 ander deelnemers uitgestof om uiteindelik die kroon te dra. …

miss cover girl logoDie agtjarige Wilita Lee het Saterdagaand stof in verskeie ervare modelle se oë geskop toe sy as die Miss Polokwane Observer Cover Girl 2015 aangewys is.
Die finaal van die skoonheidskompetisie is Saterdagaand by Meropa Casino & Entertainment World aangebied en Wilita het meer as 70 ander deelnemers uitgestof om uiteindelik die kroon te dra.
Miss Polokwane Observer Cover Girl 2015 is in samewerking met Katryn Barwise, ‘n plaaslike modelskooleienaar en skoonheidskoningin, aangebied.
Wilita, ‘n graad 2-leerder van Mokopane Primary School, vertel dat sy as vyfjarige aan skoonheidskompetisies begin deelneem het. Drie jaar later spog sy reeds met 12 titels agter haar naam wat Miss SPCA Mokopane Junior 2015 en Queen of the North Junior 2014 insluit.
Sy het twee jaar gelede by Barwise se modelskool, Limpopo Beauty Modelling Academy aangesluit waarna haar loopbaan van krag tot krag gegaan het.
“Ek het aan skoonheidskompetisies begin deelneem omdat dit soos groot pret gelyk het. Ek sal dit vir niks verruil nie. Miss Polokwane Observer Cover Girl 2015 is die grootste titel wat ek nog gewen het en ek is baie geëerd dat die beoordelaars my gekies het,” vertel Wilita.
“Ek gee alles in elke kompetisie waaraan ek deelneem en hoop om eendag hoë hoogtes as model te bereik.”
Ten spyte van al haar prestasies op die loopplank is Wilita steeds ‘n normale en gesonde agtjarige wat daarvan hou om tyd saam met familie en maats deur te bring.
Haar gunstelingkos is hoender en skyfies en sy is gaande oor die fliek, Pitch Perfect. Sy is ook versot op klere en mode.
“My ma, Elita Jansen van Vuuren is my rolmodel en ek sou nie een van my titels sonder haar hulp kon wen nie. Sy staan my by en gee haar ondersteuning wanneer ek aan kompetisies deelneem.”
Jansen van Vuuren sê dat sy ongelooflik trots op haar dogter is en vertel hoe hard Wilita werk om vir elke kompetisie voor te berei.
“Dit was ‘n groot verrassing vir ons almal toe sy die kompetisie gewen het. Ons het gehoop dat sy haar kategorie sou wen, maar het nooit gedink sy sou die algehele wenner wees nie. Dit was ongelooflik.”
Die bekkige meisie is van voorneme om eendag Mej Suid-Afrika en Mej Wêreld te wees.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Exit mobile version