Bosveld NewsNews

Dominee tree uit na 33 jaar

NA byna 33 jaar op die preekstoel van die N.G. Moedergemeente en as leraar wat ook betrokke is by die gemeenskap is, is dit nou amper tyd om te groet, sê ds. Bernard Rademeyer.

MOKOPANE – NA byna 33 jaar op die preekstoel van die N.G. Moedergemeente en as leraar wat ook betrokke is by die gemeenskap is, is dit nou amper tyd om te groet, sê ds. Bernard Rademeyer.

Ds. Bernard en sy gade, Ceciel, is bekende en geliefde inwoners van Mokopane wat einde Augustus ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe in Pretoria gaan aanpak. Die egpaar het diep spore in die dorp en in baie mense se harte getrap. Bosveld het saam met hulle gekuier. Bernard, wanneer en hoe het julle hier op Potties beland?

Ek is in 1982 na hierdie gemeente beroep vanaf die N.G. Gemeente Eloffsdal-Wes in Pretoria waar ek bykans ses jaar was. Ons was baie gelukkig in Eloffsdal-Wes, maar toe ds. Sampie Niemand my die aand bel om te sê dat ek na Potties beroep is as medeleraar, het daar ‘n groot sekerheid en vrede oor my en Ceciel gekom. Ons het geweet dat dit die Here is wat ons beroep het. Ons het die beroep aangeneem en is op 16 Oktober 1982 hier bevestig. Ds. Sampie het in 1984 ‘n beroep na die N.G. Gemeente Meer-en-See in Richardsbaai aangeneem. Ds. Ettienne Stassen is beroep en nie lank daarna nie, is proponent Roelf Opperman as derde leraar van die gemeente beroep. Dit was ‘n bloeitydperk in die gemeente. Meer as 700 mense het die eredienste bygewoon. Later is ‘n tweede oggenddiens ook gehou. Ons het ook buitedienste in Sterkrivier en Limburg gehou.

Nou maar hoe het dit gebeur dat die gemeente so verklein het en vandag ‘n oorlewingstryd voer?

Met die groei van die gemeente en die uitbreiding van Chroompark aan die suidekant van die dorp het al hoe meer stemme ten gunste van afstigting opgegaan. Die afstigting het in 1986 plaasgevind en die NG Gemeente Potgietersrus-Suid is gestig. Ds. Roelf Opperman is beroep as die eerste leraar van Suid-gemeente. Met die afstigting van Suid-gemeente en die stigting van die AP Kerk in dieselfde jaar het die getal lidmate van die N.G. Moedergemeente aansienlik afgeneem. Sedert 1986 worstel die gemeente met die probleme waarmee ‘n tipiese Moedergemeente sukkel. Die demografie van die gemeente het verander, die gemeente bestaan uit baie bejaardes, maar min jongmense en kinders. Ons hou dus baie begrafnisse en min troues en dope. Ten spyte van moeilike omstandighede het die Here die gemeente nog altyd geseën. Die lidmate maak ‘n verskil in die gemeenskap en die gemeente het ‘n oop hand en hart vir behoeftiges. Ons tiendemaand dankoffers is elke jaar omtrent drie maal soveel as wat ons met ‘n basaar maak.

Wat is die pad vorentoe vir die Moedergemeente noudat jy aftree?

Ds. Peet Venter van die Oos-gemeente gaan vanaf September hier instaan. Die gesprek tussen die drie N.G. Gemeentes in Potties oor die toekomstige bediening en samewerking gaan intussen voort. Ons hoop dat die gemeente nog in 2017 haar 100ste bestaansjaar kan vier.

As jy terugkyk, wat was van die enkele hoogtepunte om hier in die bediening te staan?

Daar is so baie om op te noem maar uiteindelik was dit vir my ‘n wonderlike voorreg om elke Sondag die blye boodskap van God se genade in Jesus Christus te kon verkondig. Ek dank die Here dat ek in my hele bediening van byna 39 jaar nie een Sondag so siek was dat ek nie kon preek nie. Dit is net genade!

Ek was vroeër jare voorsitter van drie skole se beheerliggame naamlik Krugerpark, Waterberg High – toe dit nog ‘n kliniekskool was – en ook Hoërskool Piet Potgieter.

Ek was vir baie jare die voorsitter van die Christelike Maatskaplike Raad in ons dorp en ek is ook verkies tot voorsitter van ‘n klein komitee met Johanna de Bruin as sekretaresse wat die huiswerk gedoen het wat gelei het tot die stigting van die Mokopane Noodforum.

Wat gaan jy van Potties mis?

Die mense! Mense maak ‘n plek. Dis lekker om bekendes in die dorp raak te loop en lekker te gesels. As ek net ‘n brood gaan koop neem dit partykeer ‘n uur om weer by die huis te kom. Daar is so baie mense met wie ons oor jare mekaar se lief en leed gedra het.

Jou kinders is ook jou trots, vertel bietjie.

Ons oudste seun, Ignatius, is predikant by die N.G. Gemeente Meyerspark in Pretoria. Sy vrou, Elsofie, is ‘n skilder met besondere talente. Ons dogter, Magriet, het ‘n BSc-graad in Verbruikerswetenskappe, asook ‘n onderwysdiploma behaal. Sy het skool gehou maar is tans besig om eksotiese handgemaakte handsakke te maak, wat sy self ontwerp het. Sy is getroud met Eugene wat ‘n prokureur is. Hulle woon ook in Pretoria. Ons jongste, Henning, is predikant van die N.G. Gemeente Kameelboom op Tosca. Sy vroutjie, Melani, is ook ‘n predikant by die N.G. Gemeente Vergelegen sowat 30km vanaf hulle pastorie. Ek en Ceciel is die trotse oupa en ouma van vier kleinkinders, een seun en drie dogters.

Ceciel, jy het ook jou kant hier in die gemeenskap gebring.

Ja, dit was vir my ‘n voorreg om betrokke by die gemeente en gemeenskap te kon wees. Ek was vir baie jare voorsitter van die vrouediens van die gemeente wat tonne funksies vir vroue en die gemeente gereël het. Dit was vir my heerlik om ook by die kategese en kinderkrans betrokke te kon wees.

Die vrouediens het doodgeloop toe al meer vrouens wat aktief betrokke was kerkraadslede geword het en hulle pligte as ouderlinge en diakens moes doen en ook by kerkraadkommissies ingeskakel het.

Ek het so tussen ma-wees die Besige Bytjie kleuterskool hier op die kerkgronde begin en later Sprinkel-Sprankel kleuterskool van ons huis bedryf. Later het ek die Sunrise pre-primêre skool op die been gebring wat vandag nog bestaan met Elsabé Schoeman as die eienaar. Ek het ook sowat nege jaar skoolgehou by Hoërskool Piet Potgieter en was vir sowat ses jaar daar die organiseerder van die jaarlikse Bosveld Kunstefees.

Ek was ook voorsitter van die ouerleidingsgroep en stigterslid en voorsitter van die Dames-Aktueel hier op die dorp, asook voorsitter van Dameskring. Ek het honderde voorskoolse kinders oor baie jare en nog tot einde van verlede jaar leer lees. Dit was altyd lekker om te sien dat die kinders ‘n voorsprong het en uitsonderlik goed presteer het op skool.

Wat gaan jy mis?

Die mense. Ek het mooi herinneringe van die mense en ons verblyf hier in Potties. Dit was ‘n voorreg om ons kinders hier te kon grootmaak. Die feit dat die seuns in hul pa se voetspore volg, wys op sy goeie leiding en voorbeeld.

Het julle ‘n boodskap vir die gemeenskap?

Bernard: Dankie vir die kerkraad en die gemeente vir hulle goeie gesindheid en samewerking oor baie jare. Die gemeente is op die rots en fondament Jesus Christus gebou. Hy sal sy kerk instand hou. Hou die oog gevestig op Jesus Christus dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie!

Die samekomste van die geestelike leiers van die dorp elke laaste Maandag van die maand hier by die Moedergemeente was vir my altyd verrykend.

Die jaarlikse sonsopkomsdienste op Paassondag by Moorddrift, was altyd ‘n wonderlike geleentheid waar ons as Christene kon ervaar dat ons broers en susters van mekaar in die Here is.

My gebed en boodskap vir die dorp is dat kerke moet hande vat, saamwerk en mekaar nie beveg nie, maar saam sal werk aan die bou en uitbreiding van die Koninkryk van God. Die kerk mag nooit saamsing in ‘n koor van persimiste nie maar moet die wonderlike boodskap van hoop en bevryding deur Jesus Christus verkondig.

Wanneer die Rademeyers tent opslaan einde Augustus, begin ‘n nuwe fase in hulle lewe in die stad. Hulle sien daarna uit om meer tyd saam met hulle kinders en kleinkinders deur te bring. Tyd vir ledig sit gaan daar nie wees nie. Bernard beplan om in te skakel by ‘n groep predikante wat weekliks vergader en saam preekmaak. Hy sal ook nog beskikbaar wees vir afloswerk in gemeentes. Hy is alreeds genooi om volgende jaar Pinksterdienste in ‘n gemeente te hou.

Hy wil ook meer aandag gee aan die skryf van gedigte waarvoor hy in die laaste ruk nie veel tyd gehad het nie. Om na opvoerings in die Atterburyteater te gaan kyk en meer te fliek, te kuier en te reis is dinge waarna Bernard en Ceciel baie uitsien. Ceciel wil ook haar dogter help in haar handsakonderneming wat tans floreer. Die egpaar sal beslis dan en wan hier in Potties kom oë wys.

Bosveld se goeie wense vergesel die Rademeyers.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button