Editor's noteLocal NewsNews

Viervoete, onbaatsugtig liefdevol én terapeuties

Die organisasie sonder winsbejag, Pets as Therapy (PAT), maak gebruik van vrywilligers en hul diere om besoek af te lê na hospitale, hospiese, aftreeoorde, skole vir kinders met spesiale behoeftes en 'n verskeidenheid ander organisasies.

POLOKWANE – Na ‘n lang en moeilike dag op kantoor bring jou hond se waaiende stert en nat ‘soene’ ‘n kalmte en rustigheid oor jou wat moeilik verklaarbaar is. Jou hartklop keer weer terug na normaal en jy vergeet vir ‘n rukkie van al jou probleme.

Die organisasie sonder winsbejag, Pets as Therapy (PAT), maak gebruik van vrywilligers en hul diere om besoek af te lê na hospitale, hospiese, aftreeoorde, skole vir kinders met spesiale behoeftes en ‘n verskeidenheid ander organisasies.

“Ons gebruik wel vrywilligers met katte, maar die kat moet ongelukkig aan ‘n leiband kan loop wat nie altyd moontlik is nie. Ons diere is te alle tye vas aan hul leibande en onder beheer van die vrywilliger,” vertel Marieanna le Roux, voorsitter van PAT.

In Polokwane is Karen Steenkamp en haar twee honde, Shakira en Sweet Pea, deel van PAT en ‘n bekende, vriendelike verwelkoming by Eeufeeshuis waar sy sommige Saterdae gaan kuier.

“Ek bring die honde hierheen waar die inwoners dan met hulle speel en hulle vertroetel. ‘n Tyd gelede is hier ‘n studie gedoen waar bevind is dat die mense wat met die honde speel se bloeddruk gedaal het tydens die speeltyd,” sê Karen.

Beide Karen se honde dra geel nekdoeke wat by haar geel hemp pas. Sy dra ook ‘n naamplaatjie met haar besonderhede asook haar honde se besonderhede op.

“Die geaardheid van jou hond bepaal waar jy besoek kan aflê. ‘n Spelerige hond is meer geskik vir jongmense en kinders, maar hy kan dalk iemand se krukke onder hulle uit hardloop. Die geaardheid van die hond speel ook ‘n groot rol. Party honde is nie gemaklik by kinders nie, terwyl ander weer goed met kinders werk,” sê Karen.

Interaksie met diere is baie goeie terapie. Die hormoon oksitosien word vrygelaat wanneer mense met diere in kontak kom. Dit is algemeen bekend as die ‘voel-goed’-hormoon. Dit help mense om minder eensaam en depressief te voel. Mense kan met die diere gesels, geheime en herinneringe, selfs hul hartseer ook met hulle deel. Die diere oordeel glad nie oor jou tekortkominge of foute nie, hulle is onvoorwaardelik lief vir jou, hulle bied soms die enigste ligpuntjie in mense se lewens.

Kinders met outisme vind ook aanklank by die honde en kinders met leesprobleme kry selfvertroue deur vir die honde te lees.

Troeteldiere wat gaan kuier moet gesond wees, hulle moet gereeld ingeënt en ontwurm word. Daar moet ook nie vlooie op hulle wees nie.

“Ek bly gewoonlik ‘n driekwartuur na ‘n uur by die Eeufeeshuis, want daarna raak die honde moeg. Ek bring ook hondebeskuitjies en ‘n borsel saam wat die inwoners dan vir die honde kan gee en die honde mee kan borsel,” vertel Karen.

“Ons kort nog vrywilligers wat bereid is om hulle honde se liefde te deel. Hier is baie instansies in die dorp wat van hierdie goeie diens gebruik sal kan maak. Ouetehuise en skole vir kinders met spesiale behoeftes kan baie baat vind hierby.”

Indien lesers belangstel om vrywilligers te word, kan hulle vir Karen skakel by 082 822 6266.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button