Die GPF se klassieke motors

Die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF) hou hul klassieke motoruitstalling hierdie Saterdag by die speurderskantore se terrein.

MOKOPANE – DIE Mokopane Besigheidskamer was die afgelope week volstoom besig met die opruiming en skoonmaak van die speurderskantore se terrein.

Die reuse taak is aangepak om die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF) te ondersteun met hul klassieke motoruitstalling wat op Saterdag, 11 Julie, by die speurderskantore op die hoek van Ruiter- en Krugerstraat vanaf 09:00 tot 14:00, gehou word.

Die uitstalling van klassieke motors word gehou om die gemeenskap bewus te maak van die GPF. Gedurende die oggend is daar nie net klassieke motors om te besigtig nie, maar ook ‘n wye verskeidenheid stalletjies. Kom smul aan oliebolle, worsbroodjies, jaffels en pannekoeke. Daar sal ook handgemaakte items, skilderye, juwele en plantjies verkoop word.

Vir die jongspan is daar gesigverf en kindervermaak terwyl die ouers rustig deur die stalletjies al die ware kan besigtig.

Die SAPS sal ‘n stalletjie beman waar polisielede die publiek se vrae sal beantwoord en inligting sal deurgee.

Almal word hartlik uitgenooi en die toegang is gratis. Kom ondersteun die GPF en help só om saam misdaad te bekamp.

Vir verdere inligting kontak die Besigheidskamer by (015) 491 8458 gedurende kantoorure van 08:00 tot 13:00.

Exit mobile version