Tien jaar van familiewees vir Vyna Tarp

“Elke werknemer is soos familie. Ons gee vir mekaar en ons kliënte om. Danksy goeie spanwerk kan ons ‘n produk van uitsonderlike kwaliteit lewer.” Wanneer mens vir Salomé de Beer, eie-naar van Vyna Tarp in Polokwane vra wat die sleutel tot haar sukses is, huiwer sy nie een oomblik om die eer vierkantig op die …

“Elke werknemer is soos familie. Ons gee vir mekaar en ons kliënte om. Danksy goeie spanwerk kan ons ‘n produk van uitsonderlike kwaliteit lewer.”
Wanneer mens vir Salomé de Beer, eie-naar van Vyna Tarp in Polokwane vra wat die sleutel tot haar sukses is, huiwer sy nie een oomblik om die eer vierkantig op die skouers van haar personeel te plaas nie.
“Ons is regtig bevoorreg om ‘n staatmakerspan te hê,” vertel sy.
Sy skryf ook Vyna Tarp se sukses aan die harde werk van haar man, Kobus, toe. Salomé verduidelik dat Kobus die besigheid opgebou het tot die bekende en vertroude handelsnaam wat dit vandag is.
“Elkeen van ons het baie by Kobus geleer oor die besigheid en ons bou voort op dit wat ons geleer het. Kobus het ‘n hart van goud gehad en was alom bekend vir sy oop hand en sagte hart.”
Vyna Tarp vervaardig PVC- en seilprodukte van topgehalte; sportsakke, seile om bakkie- en vragmotorvragte veilig te hou, tente, bootseile, swembadbedekkings en selfs matte vir aartappelboere om hul vragte op sagte spons te laat rus sodat die groente nie beskadig nie, skadunet, seilpartisies en vele meer. Hulle doen ook herstelwerk aan seilprodukte en vervang stukkende ritssluiters aan seilprodukte.
“Wanneer seile skeur, dink mense gewoonlik dit kan nie herstel word nie en dan koop hulle nuwe seile of laat nuwes ten duurste maak. Ons kan enige skeur in seil so mooi herstel dat mens amper nie kan sien dit was ooit stukkend nie,” vertel Salomé trots.
Vyna Tarp het ook ‘n afdeling wat verhurings vir groot funksies doen.
“Ons verhuur tafels, stoele, tente van verskeie groottes, BBP-toilette, verhoë en selfs matte. Ons het ‘n spesiale span wat na die funksies reis en al die strukture opslaan en later weer afbreek. Ons verhuur aan feeste so ver as Heidelberg, waar ons die Varkfees se strukture hanteer.”
De Beer gesels oor elkeen van haar werknemers asof hulle deel is van haar gesin en ‘n atmosfeer van hartlikheid heers by hierdie onderneming. Haar skoonseun, AJ Nel het ook onlangs by die span aangesluit as
bestuurder en bemarker en beplan om binnekort aandele in die saak te koop.
In die kantoor hou Lindy-Ann Holtzhausen en Lynette de Waal die fort, terwyl Yolandi Crause ‘n staatmaker en perfeksionis met installasies is.
Vyna Tarp vier vanaand (Donderdag) hul 10de verjaardag in styl op hul perseel by Loodstraat 39 in Futura. Al hulle kliënte en verskaffers word hartlik uitgenooi om hierdie geleentheid by te woon.
“Wat ‘n voorreg om 10 jaar van samewerking en vriendskap saam met die mense wat ons gehelp het om te kom waar ons vandag is, te vier,” sluit Salomé af.

MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Kobus de Beer is steeds die hartklop van Vyna Tarp.
Die Vyna Tarp-fabriekspan.
Herence Rabosinwa is besig om ‘n nylonnet te vleg.
Bettie Mashimbi, Joel Maakamela en Frieda Moloto werskaf in Vyna Tarp se fabriek.
Exit mobile version