Heiningtwis: man in arres

Die Demokratiese Alliansie (DA) het onderneem om die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te nader om ‘n voorval tussen twee bure op ‘n kleinhoewe net buite die stad te ondersoek nadat een van die grondeienaars twee dae agter tralies moes deurbring omdat hy deur sy buurman van onder andere diefstal van ‘n heining beskuldig is. “Ek gaan …

Die Demokratiese Alliansie (DA) het onderneem om die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te nader om ‘n voorval tussen twee bure op ‘n kleinhoewe net buite die stad te ondersoek nadat een van die grondeienaars twee dae agter tralies moes deurbring omdat hy deur sy buurman van onder andere diefstal van ‘n heining beskuldig is.
“Ek gaan die saak nie hier los nie en het reeds ‘n professionele span wat my bystaan,” sê die aangeklaag­de grondeienaar wat verkies om anoniem te bly.
Die probleme met die buurman, na bewering ‘n voormalige polisiebeampte, duur glo reeds ‘n geruime tyd en het selfs tot ‘n interdik gelei wat glo later deur die hof as ongeldig verklaar is.
Die grondeienaar is ‘n omgewings­impakstudie-konsultant en het verlede jaar ‘n verslag saamgestel oor sy buurman se hoenderboerdery en het foto’s geneem om aan die verslag te heg. Die buurman het ‘n interdik teen die grondeienaar gekry omdat hy glo geïntimideer deur die studie en foto’s gevoel het. Die buurman het toe reeds gedreig om sy vriende in die polisie te kry om hom te arresteer.
Verlede Woensdag het die grondeienaar ‘n werknemer aangesê om ‘n ou vervalle heining tussen hom en die buurplaas te verwyder sodat ‘n nuwe heining opgesit kan word.
“Ek was besig om ‘n brief te tik om die buurman daarvan in te lig, maar dit was nie lank nie of die buurman was daar en het my daarvan beskuldig dat ek sy draad steel,” sê die grondeienaar.
Minute later het 14 polisiebeamp­tes by die hoewe opgedaag. Na ‘n lang redekaweling is die eienaar op aanklagte van saakbeskadiging, diefstal en minagting van ‘n hofbevel gearresteer.
Sy seun het video-opnames van die onderonsie en arrestasie gemaak waarna die polisie gedreig het om hom ook te arresteer. Polokwane Observer is in besit van die video’s.
“In die selle wou dit voorkom asof die polisie nie wou hê dat my prokureur my sien nie. Hulle wou my 48 uur aanhou. Laataand was daar steeds geen dossier geopen nie. My werknemer is ook vir diefstal gearresteer,” sê hy.
Hy het ook beweer dat hy beseer is weens die manier waarop die beamptes gery het terwyl hy agter in die vangwa was.
Donderdag het die polisie hom teruggeneem na die hoewe om die heiningmateriaal uit te wys. “Hulle het aanhou sê ek moet uitwys waar die draad is wat ek gesteel het. Ek het herhaaldelik geantwoord ek het dit nie gesteel nie, maar dat dit afgehaal is om te vervang.”
Die grondeienaar het Vrydag in die Polokwane Landdroshof verskyn en is op R500 borgtog vrygelaat. Hy moet op 18 Augustus weer in die hof verskyn.
Provinsiale leier van die DA, Jacques Smalle sê ‘n onafhanklike ondersoek sal gedoen moet word om te bepaal of onnodige of te veel geweld gebruik is tydens die arrestasie. “Sodra die ondersoek afgehandel is, sal ons die saak verder neem. Ons is ook in besit van die video’s wat geneem is.”
Provinsiale polisiewoordvoerder Ronel Otto sê indien die grondeienaar voel hy is onregmatig gearresteer of hardhandig en ongrondwetlik hanteer, is hy welkom om klagte teen die polisie te lê. “Dit is tans slegs beweringe wat gemaak word, maar ons sal die saak deeglik ondersoek,” sê Otto.
Die buurman wat die klagte teen die grondeienaar gelê het, kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy vrou het gesê hy is uitstedig en het geen selfoon by hom nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version