DBV ondersoek voorval na beeste op vervoertrok vrek

“Ek het in trane uitgebars toe ek sien hoe die beeste vervoer word en in watter toestand hulle is. Die een het met sy poot wat tussen die raam- en bakwerk vasgeknyp is, gelê. Die ander se neuse het gebloei terwyl nog ‘n paar in baie ongemaklike posisies gelê het,” sê Rosa Buitendach, wie se …

“Ek het in trane uitgebars toe ek sien hoe die beeste vervoer word en in watter toestand hulle is. Die een het met sy poot wat tussen die raam- en bakwerk vasgeknyp is, gelê. Die ander se neuse het gebloei terwyl nog ‘n paar in baie ongemaklike posisies gelê het,” sê Rosa Buitendach, wie se man, André die bestuurder van die vragmotor onlangs in Biccardstraat afgetrek het.
André, wat self ondervinding met die vervoer van lewende hawe het, het die vragmotorbestuurder beveel om alles reg te stel voordat hy verder ry.
“Die vragmotor was nie geskik om beeste te vervoer nie en die beeste het in ‘n haglike toestand verkeer. Ons het die man daar laat staan. ‘n Paar blokke verder het ek ‘n verkeerskonstabel genader en hom na die vragmotor vergesel. Die bestuurder wou net wegry sonder om die probleme reg te stel, maar ‘n boomtak het afgebreek en tussen die kajuit en die sleepwa ingeval toe hy wou wegtrek en hy moes eers die probleem hanteer,” sê André.
Die verkeersbeampte het die plaaslike Dierebeskermings­vereniging (DBV) na die toneel ontbied.
DBV-inspekteur, Moloko Manaka sê daar was 30 beeste op die vragmotor wat vanaf Letsitele na ‘n plaaslike slagpale vervoer is.
“Ons het die bestuurder na die slagpale begelei om die beeste af te laai. Twee is op die vragmotor dood terwyl die ander ligte beserings opgedoen en deur ‘n veearts ondersoek is,” sê Manaka.
Sy sê die vragmotor was nie geskik om beeste te vervoer nie. “Omdat die regte vragmotor nie gebruik is nie, het die beeste vermoedelik as gevolg van die stampe en stote op die pad mekaar vertrap wat tot die twee vrektes gelei het.”
Die bestuurder het vir Manaka die kontaknommers van die eienaar gegee, maar die persoon kon nog nie bereik word nie.
“In sulke gevalle word die eienaar en die bestuurder gewaarsku om hulself nie weer aan soortgelyke misdrywe skuldig te maak nie. Indien hy weer gevang word, sal hy aangekla word en moontlik ‘n klagte van dieremishandeling in die gesig staar.” se Manaka.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version