Audiobybel binnekort in Tshivenda beskikbaar

‘n Plaaslike taakspan wat deur Davar Partners International aangestel is, is tans besig om die Bybel in Tshivenda in elektroniese audio formaat vas te lê. Die projek is n samewerking met die Bybelgenootskap van Suid Afrika aangepak. Die span, wat uit projekleier Dewald Hattingh, leser Mulalo “Joe” Murongwa, proefleser Rudzani Nthangeni en produksie-ingenieurs Mthobeli Malima …

‘n Plaaslike taakspan wat deur Davar Partners International aangestel is, is tans besig om die Bybel in Tshivenda in elektroniese audio formaat vas te lê. Die projek is n samewerking met die Bybelgenootskap van Suid Afrika aangepak.
Die span, wat uit projekleier Dewald Hattingh, leser Mulalo “Joe” Murongwa, proefleser Rudzani Nthangeni en produksie-ingenieurs Mthobeli Malima en Eduard Bosman bestaan, het in Mei vanjaar met opnames begin.
Hulle gebruik die studio-ateljees van Jacaranda FM in Polokwane en het reeds 735 hoofstukke van die Bybel afgehandel.
“Ek is baie opgewonde oor die vordering van die projek. Ons behoort vroeg volgende jaar klaar te wees. Die proses verg baie aandag en tyd en die leser word deur ‘n tweede lid van die span gekontroleer. Na elke derde hoofstuk word die werk weer deur albei persone gekontroleer,” sê Hattingh.
Tydens werwing van lede vir die span, het Hattingh by sy voormalige SAUK-kollegas en ander belanghebbendes kers opgesteek.
Die eindproduk sal in ‘n Audibible-formaat beskikbaar wees en veral byval vind by ongeletterdes en ander mense wat nie self Bybel kan lees nie. Dié elektroniese Bybel lyk soos ‘n selfoon en word deur sonkrag aangedryf.
Die Bybels sal deur die Bybelgenootskap en Davar Partners International versprei word en na verwagting teen sowat R280 bemark word. Indien fondse dit toelaat, sal dit ook gratis aan blindes, sorgbehoewendes en Bybelluistergroepe beskikbaar gestel word.
Die Bybel is in 1998 in Tshivenda vertaal en Davar Partners International het die Bybel in 18 tale, wat Noord-Sotho, Suid-Sotho, Xhosa, Tswana en die Good News Bible insluit, opgeneem.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version