Editor's choiceLocal NewsNews

Passie vir skoene neem haar na nuwe hoogtes

Azelle Mouton, 'n haarstilis in die stad, het die perfekte oplossing vir haar eie, sowel as ander vroue, se probleem met ongemaklike skoene en baie tyd op jou voete gevind.

POLOKWANE – Gemaklike skoene is van die grootste belang as jy daagliks baie tyd op jou voete spandeer.

Azelle Mouton, ‘n haarstilis in die stad, het die perfekte oplossing vir haar eie, sowel as ander vroue, se probleem met ongemaklike skoene en baie tyd op jou voete gevind.

“Meer as ‘n jaar terug het ek hierdie skoene op die internet gesien en ek was dadelik smoorverlief. Ek kon dit nêrens in Suid-Afika kry nie en om hulle in te voer het hopeloos te duur gekos.

“Begin van hierdie jaar het ek voorbeelde van die skoene gekry en begin navorsing doen om ‘n plek te kry wat dit vir my kan maak.”

Sy vertel sy het toe op ‘n fabriek afgekom wat dit vir haar maak en dan kan sy haar naam Zellie daarop sit. Sy vertel sy het die skoene laat versterk en ‘n paar veranderings gemaak.

“Een van my vriendinne het my van kleins af Zellie genoem. Sy is verlede jaar oorlede en ek het gedink dit is ‘n goeie manier om haar te onthou.”

Azelle vertel dat die Facebook bladsy wat sy gestig het vir die skoene baie gewild is. Mense van so ver as Kaapstad bestel skoene by haar. “Ek het al skoene na plekke gestuur wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Die aanvraag daarvoor is baie groot.”

Die spanning van die nuwe onderneming was met tye vir haar baie groot en sy was aanvanklik heel onseker.

“Ek het ‘n pad met die Here gestap en deesdae is daar ‘n kalmte en rustigheid oor my. My familie ondersteun my bitter baie. Ek kan nie genoeg dankie sê vir hulle nie,” sê Azelle.

Volgens Azelle, wat self ook ‘n paar Zellies dra, is die wighakskoene vreeslik gemaklik en laat dit nie jou voete sweet nie. Dit maak ook nie jou voete moeg as jy heeldag daarmee staan nie omdat dit die vorm van jou voet aanneem.

Sy vertel dat sy iemand het wat haar administrasie vir haar behartig en dat sy reeds aan ‘n volgende reeks en ‘n kompetisie werk. Haar skoene is ook beskikbaar in winkels in Margate, Kolonnade en Hoedspruit.

“Baie mense het aan die begin vir my gesê dit is nie ‘n goeie idee nie, maar ek het vasgebyt. Deesdae gee mense positiewe terugvoer en dit maak my positief.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button