Reg vir Bokkieweek danksy Solidariteit Helpende Hand

'n Belowende gr. 10-rugbyspeler van Hoërskool Piet Potgieter is 'n stap nader om sy droom, om eendag professioneel rugby te speel, te verwesenlik danksy Solidariteit Helpende Hand se Mokopane-tak wat hom gedurende die AVS Bokkieweek in Julie borg.

MOKOPANE – ‘N BELOWENDE gr. 10-rugbyspeler van Hoërskool Piet Potgieter is ‘n stap nader om sy droom, om eendag professioneel rugby te speel, te verwesenlik danksy Solidariteit Helpende Hand se Mokopane-tak wat hom gedurende die AVS Bokkieweek in Julie borg.

Die AVS Winter Bokkieweek vind elke jaar tydens die Julie-vakansie plaas en is ‘n hoogtepunt op die skolerugbykalender. Slegs ‘n handjievol seuns vanuit verskillende skole word jaarliks gekies om hierdie winterskool vir rugby by te woon.

Franco maak deel uit van die Mokopane-tak se Bemagtig-‘n-Kind projek. Die tak hoop om hom hiermee in staat te stel om homself as ‘n speler van formaat te bewys. “Dit sal aan Franco die geleentheid bied om deel te hê aan iets groter as hyself,”sê Henriëtte Williams, Solidariteit Helpende Hand se Mokopane takvoorsitter, in ‘n mediaverklaring.

Franco sê, “ek glo dat ek baie gedurende die rugbytoernooi gaan leer en dat my spel beslis gaan verbeter”.

Dit is slegs een van die Mokopane-tak se projekte. Hul groot doel is om baie meer kinders te kan help. “Ons benodig hulp van die Mokopane-gemeenskap,” sê Williams. “Enigiemand van buite wat graag betrokke wil raak, is ook welkom. Ons het kleuters wat geborg moet word vir kleuterskool en graad R, sportaangeleenthede, toere, veldskole en vele meer. Op ons eie kan die tak net ‘n handjievol van die kinders help.”

Solidariteit Helpende Hand is ‘n nasionale organisasie sonder winsbejag wat fokus op die voorkoming, verbreking en verligting van armoede. Vir meer inligting oor Helpende Hand of om by die Mokopane-tak betrokke te raak, kontak Williams by 084 836 0005.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version