PIENKVOETJIES: Jonelke is ‘n welkome toevoeging tot die Burger-gesin

Eers was hulle net soos talle ander egpare doodgewoon pasgetroud, voor die jong Janeske haar opwagting in die Burger-huishouding gemaak het.

POLOKWANE – Eers was hulle net soos talle ander egpare doodgewoon pasgetroud, voor die jong Janeske haar opwagting in die Burger-huishouding gemaak het.

En drie maande gelede het Pa Joël en Ma Nelia ook vir Jonelke bygekry.

“Dit was ‘n baie maklike swangerskap. Sy het 3,59 kg geweeg met geboorte en was sy 55 cm lank,” vertel Nelia trots. Haar naam, net soos haar ousus se naam, is uniek en ‘n afleiding van die ouers se name. Nelia vertel dat hulle gelukkig was in die sin dat daar net dogtertjies in die familie gebore is en dus het hulle nie nodig gehad om enige iets ekstra vir Jonelke aan te skaf nie.

“Ek het ook twee ooievaartee-partytjies gehad. Een wat deur my familie gehou is en een deur kliënte,” vertel Nelia wat haar eie haarsalon het.

“Ek het die partytjies geniet en dit was nie nodig om snaakse goed te doen nie, behalwe om koeldrank met ‘n stuk sjokolade in te drink uit ‘n potjie.”

Nelia vertel dat, al was dit haar tweede swangerskap, sy banger was as tydens die eerste een. “Dit is omdat ek geweet het wat voorlê, die wag was senutergend.”

Sy vertel dat sy aan die begin van haar swangerskap baie ys geëet het, maar dat rook, mengelslaai en groente haar naar gemaak het.

“Joël was baie ondersteunend gedurende my swangerskap en ek is baie dankbaar vir hom in ons lewens. Hy was altyd geduldig,” vertel Nelia.

Jonelke het geen uitdagings aan haar ouers gebied nie, tot sy siek geword het. Sy het slym op haar borsie en Nelia sê dit is baie moeilik vir hulle as ouers om haar siek te sien. Sy vertel ook dat sy na Jonelke se geboorte met nageboortelike depressie gesukkel het, maar dat sy dadelik mediese hulp gekry het.

“Sy is ‘n baie maklike babatjie en ek sukkel nie met haar nie. Haar gunsteling speelding is ‘n pienk bolletjie wat oor haar bedjie hang wat sing as jy hom trek. Sy is gaande oor die ding,” sê Nelia met ‘n glimlag.

Ousus is baie mooi voorberei vir die nuweling, maar Nelia vertel die eerste twee dae het sy gedink haar ouers het vir haar ‘n pop gebring.

“As ons Jonelke wegneem van Janeske af, het sy gehuil en gesê ‘dis myne’. Toe het sy ons vir so dag of twee ignoreer en van daar af aanvaar sy haar. Janeske word in die oggend wakker met die woorde ‘slaap sussie nog?’.”

Nelia vertel dat alhoewel hulle nou minder tyd vir vriende en familie het, staan hulle lewens nie stil nie.

Jonelke het by hulle aangepas, nie hulle by haar nie.

“Ouerskap beteken vir my dat ons die liefde wat God vir ons het, aan ons kinders moet bewys,”sluit Nelia af.

LITTLE PINK FEET: Beautiful girl is the apple of her mother’s eye

PIENKVOETJIES: Keagan, vuur en vlam vir Pa en Ma

PIENKVOETJIES: Charmoné bring vreugde vir die hele Nel-gesin

PIENKVOETJIES: Kleinboet vir Nihan om die prentjie te voltooi

PIENKVOETJIES: Gabriella, krag van God

PIENKVOETJIES: Sussies se geluk dubbeld

PIENKVOETJIES: Eersteling De Wet bring vir hulle geluk, laat familienaam voortleef

PIENKVOETJIES: Tien jaar en toe kom hulle kleinding, Johandré

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version