Net streng diëte en oefeninge vir Wynand

Wynand Steyn (22) is 'n liggaamsbouer wat al vier jaar lank sy liggaam oefen en gesond eet sodat hy kan deelneem aan groter kompetisies.

POLOKWANE – Wynand Steyn (22) is ‘n liggaamsbouer wat al vier jaar lank sy liggaam oefen en gesond eet sodat hy kan deelneem aan groter kompetisies.

Wynand neem gewoonlik deel in die fisiekeliggaamsboukategorie waar hul jou oordeel vir onder andere ‘n goeie gesig en ‘n goeie vel.

Hy het aan die Mr Body Beautiful kompetisie deelgeneem waar hy ‘n tweede plek verwerf het en hy het aan die Nasionale Amateur Liggaamsbouvereniging (NABBA) Pretoria Classics deelgeneem en ‘n eerste plek in die onder 80 kg-kategorie en die algehele model kategorie gewen het. Hy het ook ‘n eerste plek in die 2012 Mall of the North modelkompetisie verwerf en ‘n eerste plek in die provinsiale liggaamsbou kompetisie.

Review het met Wynand gaan praat om by hom uit te vind wat hom aanspoor om so hard te oefen.

“Ek het nog altyd gemik om my liggaam in ewewig te kry, om ‘n gesonde en sterk liggaam te hê, dit het my motiveer om te oefen en aan kompetisies deel te neem,” sê Wynand.

Hy oefen tans vyf keer ‘n week vir 45 minute ‘n dag onder die afrigting van Dries Swart en volg ‘n streng dieet. Die dieet is hoofsaaklik om gewig op te tel vir ‘n opkomende kompetisie. “Ek wil graag van 82 kg na 90 kg gaan om in 2016 weer ernstig te kompeteer,” sê hy.

Hy sê wel dat die grootste uitdaging van liggaamsbou nie die oefening self is nie, maar die dieet. “Nie enige iemand kan 04:00 al opstaan en hul eerste maaltyd vir die dag eet nie, dan moet jy ook nog al die lekker kos uitsny en die dieet streng toepas,” sê Wynand laggend.

Hy sê wel dat ‘n mens trots voel om te sien hoe jou liggaam elke dag verbeter en elke dag verander. Wynand was ‘n kranige swemmer op hoërskool en hy het onder plaaslike afrigter, Dougie Eagar geoefen. “Dit is daar waar ek geleer het om hard te werk en toegewyd te bly,” sê Wynand.

Tans werk Wynand by die plaaslike gimnasium, Body Life, as ‘n persoonlike afrigter, hy is besig om ‘n graad as persoonlike afrigter te voltooi.

Hy spandeer graag sy vrye tyd saam sy vriende of sy meisie en geniet dit ook om videospeletjies te speel.

Lazar Angelov, ‘n professionele liggaamsbouer is sy rolmodel. “Hy het baie balans in sy liggaam, dit is belaglik wat hy kan doen en hoe hy sy leefstyl aanpas,” sê Wynand.

Wynand het ook raad aan die persoon wat vir die eerste keer wil begin oefen. “Moet nie te vinnig begin nie, begin stelselmatig oefen, elke keer ‘n bietjie langer of meer in ‘n week, maar dit is belangrik om jouself net nie te vinnig te hard te druk nie, mens moet nie met tonnelvisie oefen nie,” vertel Wynand.

Vir Wynand is fiksheid en oefening ‘n groot passie, en om mense te help hul doelwitte in fiksheid te behaal vorm ook vir hom deel van hierdie passie.

“As ‘n mens eers begin oefen en fiks bly word dit verslawend, mens wil dan net verbeter en harder werk,” sê Wynand.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version