Kranige Krugers

DIE Krugers van Mokopane is 'n fikse gesin wat elke jaar die bekers en medaljes inryg op die sportvelde hier en elders in die land.

MOKOPANE – DIE Krugers van Mokopane is ‘n fikse gesin wat elke jaar die bekers en medaljes inryg op die sportvelde hier en elders in die land.

Selfs nou in die vakansietyd het Lené (13) pas tweede geëindig in die C-afdeling van die Nomads Suid-Afrikaanse o/18-meisies gholfkampioenskappe wat op Orkney gehou is, terwyl ouboet Kurt (16) en kleinboet Gerard (8) hul slag in Oos-Londen tydens die Suid-Afrikaanse Biathle- en Triathle-kampioenskappe gaan wys het in Limpopo kleure.

Lené het Dinsdag 86 houe speel en 43 punte aangeteken. Haar totale punt van 78 maak haar die naaswenner in haar afdeling, het haar ma, Armanda trots aan Bosveld vertel.

Dit was so hittetit of sy het die wenner, wat ‘n totaal van 81 aangeteken het, uitgestof.

Kurt was algeheel negende in die Biathle wat hardloop en swem behels.

Hy was die dag daarna vyfde in die Triathle-kampioenskappe, net sowat 56 sekondes agter die wenner.

In Triathle word daar vyf skote in die kol geskiet, dan geswem en gehardloop. Hierdie siklus word vier keer gedoen. Kurt se spanmaats van Mokopane, Danré Grove en Kobus van Wyk het ook goed gevaar.

Kobus het 11de klaar gemaak in die Biathle en Danré was 12de. Kobus was ook algeheel sewende in die Triathle.

Armanda wat self ‘n knap gholfspeler is, bedank Bonus Motors vir die leen van ‘n voertuig om Lené en die ander gholfspelers van die omgewing na Orkney te vervoer.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version