HPP salueer onderwyser vir sy toegewyde diens

"EK salueer jou na 30 jaar as 'n puik onderwyser by Hoërskool Piet Potgieter. Jy het diep spore getrap by HPP, spore wat onteenseglik gevolg kan word deur die jeug," het Jas Hansen, skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter, verlede Vrydag tydens saalopening gesê toe daar afskeid geneem is van Johan Meissenheimer.

MOKOPANE – “EK salueer jou na 30 jaar as ‘n puik onderwyser by Hoërskool Piet Potgieter, ‘n ware meester in jou vakgebied, ‘n onderwyser wat ‘n passie gehad het vir kinders en vir die opvoeding in sy geheel. Jy het diep spore getrap by HPP, spore wat onteenseglik gevolg kan word deur die jeug,” het Jas Hansen, skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter, verlede Vrydag tydens saalopening gesê toe daar afskeid geneem is van Johan Meissenheimer.

Meissenheimer het sy onderwysloopbaan in 1978 by Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi begin en in 1985 op 30-jarige ouderdom stap hy vir die eerste keer deur HPP se hekke as departementshoof van lewenswetenskappe. Meissenheimer het op vele gebiede uitgeblink en was goud werd op sowel as af van die sportvelde.

Hy was jare lank atletiekorganiseerder en elke rugbyspan van o/14 regdeur tot die eerstespan is deur sy bekwame hande. “Meissenheimer se administratiewe werk was absoluut deeglik,” vertel Hansen.

Meissenheimer was ook eksaminator en moderator in Limpopo en ‘n ware voorbeeld van ‘n gesoute onderwyser in sy vakgebied, biologie.

Hy is getroud met Annatjie, ook ‘n geliefde onderwyser by Hoërskool Waterberg, en hul spog met twee seuns, Johan en Johnny. Verlede Vrydag was amptelik Meissenheimer se laaste dag as onderwyser en lid van die Hoërskool Piet Potgieter familie nadat hy op die ouderdom van 60 besluit het om sy werkskoene te verruil vir die avonture wat gepaardgaan met aftrede.

“Ek sien die meeste daarna uit om my liefde vir hengel langs die ope waters te gaan beoefen,” vertel hy met ‘n glimlag. Hy sê dat hy sy vakgebied in biologie, vandag bekend as lewens-wetenskappe, gaan mis. Een van die grootste hoogtepunte in sy 30 jaar as onderwyser by HPP was in 2005 toe hy die rugbyafrigter van die tweedespan was en sy span die Hansies ‘n goeie pakslae op hul tuisveld gegee het.

“My raad aan alle onderwysers is: Jy moet ‘n kenner wees in jou vakgebied en jy moet dit so aanbied dat die kinders ook ‘n liefde daarvoor ontwikkel.” Een van sy oud-leerders het ‘n liefde vir biologie by my gekweek. Hy het altyd ‘n grap of twee vertel, wat die eksperimente pret gemaak het.”

Hansen vertel dat Meissenheimer uiters lojaal is, beskik oor integriteit, respekvol is en kan empatie betoon. “Ons beste wense vergesel hom en sy gesin op hierdie nuwe hoofstuk en hy gaan gemis word deur die personeel en kinders.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version