NewsSchools

Kruinie-juffrou in haar element na vele jare in die groot stad

Sy is immers nie net 'n juffrou nie, maar ook self 'n mamma. Dalene van Wyk is onderwyser by Curro Heuwelkruin en vertel dat sy haar werk vreeslik geniet.

POLOKWANE – Soggens word ander mense se kinders in haar sorg gelaat met die wete dat sy baie goed na hulle sal omsien. Sy is immers nie net ‘n juffrou nie, maar ook self ‘n mamma. Dalene van Wyk is onderwyser by Curro Heuwelkruin en vertel dat sy haar werk vreeslik geniet.

“Ek het altyd gesê ek gaan op ‘n verhoog staan, maar het besef dit is lekkerder om kinders te leer,” vertel sy waar ons in haar sonnige klaskamer sit en gesels.

Dalene het weer hierdie jaar indruk gemaak met haar afrigting van die leerders wat goeie uitslae by die Bosfeld Kunstefees behaal het. Haar hoofvakke op universiteit was tale, maar sy het spesialiseer in klassieke musiek.

“Ek is in Vanderbijlpark gebore en het daar grootgeword, maar is later na Vereeniging Hoërskool om my hoërskoolloopbaan te voltooi. Ek is na Potchefstroom Onderwys Kollege waar ek studeer het om in die grondslagfase skool te gee,” sê Dalene. Na skool is sy terug na haar ou laerskool in Vanderbijlpark waar sy begin skool gee het. Sy is later met Stefan getroud en hulle het na Stanger in KwaZulu-Natal verhuis waar sy vir vier jaar by Northcoast Primary onderwyser was. Sy is aangestel as departementshoof van die grondslagfase en ‘n ruk daarna is hulle verplaas na Johannesburg.

“Ek het Kindermuzik studeer en my eie studio oopgemaak. Ek het ‘n jaar en ‘n half tuis saam met my seun, Francois wat nou 13 is, gebly, maar het terug verlang na die skool. Ek het begin om kuns en kultuur te gee en het later die hoof geword van Welridge Academy. So vier jaar gelede wou ons egter uit Johannesburg uit en so beland ons toe in Polokwane.”

Stefan het sy eie besigheid en het baie kliënte in Limpopo, dus kon hy van Polokwane af werk. Dalene het ‘n pos gekry by Heuwelkruin en vertel dat sy baie gelukkig is daar.

“Dit is ‘n wonderlike skool. Ek was ‘n jaar en ‘n half gelede met kanker diagnoseer en hulle het my wonderlik ondersteun. Die kinders was besorg en het drukkies uitgedeel en die ouers het dikwels kos by Stefan-hulle afgelaai. Ek is ook seker dat geen ander werksplek soveel verlof aan iemand sou toestaan nie. Die kanker is darem tans in remissie.”

Sy vertel dat dit vir haar heerlik is om die tale aan kinders te leer en dat sy dit geniet om bietjie drama in hul optredes te bring. Sy vertel sy het self as kind aan optredes deelgeneem, maar dat die drama-gogga haar eers later regtig gebyt het.

“Dit is vir my lekker om ‘n kind ‘n kans te gee. Kuns moet vir kinders goed wees,”vertel Dalene.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button