Die hart van ‘n regte vegter

Op 25 Junie het Louis Ungerer vir die eerste keer in drie maande weer by die skool opgedaag. Louis Ungerer (12) is in Februarie diagnoseer met 'n vorm van bloedkanker...

POLOKWANE – Vir die leerders van Laerskool Pietersburg was Donderdag, 25 Junie baie spesiaal.

Louis Ungerer (12) ‘n gr. 7-leerder van die skool, het vir die eerste keer in drie maande weer by die skool opgedaag.

Louis is in Februarie diagnoseer met ‘n vorm van bloedkanker en moes sy vriende by die skool groet omdat hy te siek was om verder skool by te woon.

Louis se ma, Janine, vertel dat Louis in Desember verlede jaar begin kla het van pyn en moegheid.

Dis eers na hy by die skool inmekaar gesak het dat sy onraad vermoed het en hom na die dokters geneem het.

Na talle toetse en ondersoeke is daar bevind dat hy kanker het en dat van sy beenmurg uit sy ruggraat lek. Daarom het hy inmekaar gesak en moes hy dadelik behandeling kry.

Sy behandeling het chemoterapie en ander medikasie ingesluit, omdat sy witbloedselle nie altyd hul werk doen nie.

“Hy kan glad nie blootgestel word aan enige kiem nie en hy moet by die huis ook mooi opgepas word. Hy word baie vinnig moeg en dit maak dat hy nie lank kan staan of loop nie,” vertel Janine.

Familie vriend Andries Rheeder vertel dat hy van die begin af met Louis se diagnose daar was en dat hy elke tree saam met die gesin gestap het. Hy vertel dat die eerste ding wat Louis wou weet na sy diagnose, wanneer hy gaan doodgaan.

“Ek het met hom gesit en gepraat oor die videospeletjies waarvoor hy so lief is en hoe die mense in die speletjies moet baklei om verder te gaan en hoe hulle dan van vlakke verander wanneer hulle veg.

“Ek het aan hom verduidelik dat hy nou moet veg en dan sal hy ook van die een vlak na die ander vorder en dis hoe hy die kanker sal wen,” vertel Andries.

Hy vertel dat hy vir Louis met elke toets iets gee wat hom na die volgende vlak sal neem en dat hy trots is om te sê dat Louis nou reeds op vlak 30 is.

Beide Andries en Janine vertel dat Louis nie een oomblik ophou veg nie.

“Wanneer mens chemoterapie kry word jy baie siek. Dis nie soos griep wanneer jy môre beter voel nie, jy bly siek.

“Vir jou liggaam om nie op te gee nie en vir jou wil om nie te breek nie moet jy baklei en Louis hou net nie op baklei nie,” sê Andries.

Janine vertel dat sy as enkelouer haar krag van God af kry en die ander ouers wat deur soortgelyke situasies gaan by Netcare Unitas Hospitaal wanneer Louis moet gaan vir behandeling.

“Ons ouers staan mekaar by, tel mekaar op wanneer dit swaar gaan en is saam met mekaar bly wanneer dit goed gaan.

“Sonder hulle ondersteuning en my geloof weet ek nie hoe ek sou staande bly nie,” sê Janine.

Leerders van die skool het op Woensdag, 24 Junie gewone klere gedra nadat elkeen R5 betaal het.

Die geld is saamgesit en aan die Ungerer-gesin oorhandig om hulle te help met die betaling van Louis se behandeling.

Louis het ook die geleentheid gekry om deur van sy maats in die rolstoel rond gestoot te word waar hy al sy ander vriende en onderwysers kon groet.

Daar is positiewe uitslae in die behandeling wat Louis ontvang en die dokters is hoopvol dat hy weer in Januarie volgende jaar kan skool bywoon.

Janine vertel dat daar nie woorde is om dankie te sê aan almal wat haar bystaan en dat sy net haar dankbaarheid teenoor elke liewe persoon in haar lewe wil uitspreek.

“Julle almal is vir my ‘n seën vanuit die Hemel en julle beteken vir my die wêreld in hierdie tyd.

“My werkskollegas is vir my belangrik om te noem, omdat daar soveel mense is wat bo en behalwe die kanker ook nog moet bekommerd wees oor werk. Julle help my ongelooflik baie in die aspek,” sê sy.

Janine vertel dat haar raad aan ouers wat te doen kry met kanker is om positief te bly.

“Jy en jou kind moet ‘n span wees. Jy moet niks sonder hulle doen nie en wanneer jy huil moet jy dit ook met hulle deel, maar verduidelik hoekom jy huil en dat jy later sal beter voel.

“Laat die kind ook met die dokters praat en laat hom of haar verstaan wat besig is om met hulle te gebeur en wat met hulle liggaam gaan gebeur tydens behandeling,” gee sy raad.

Die grootste wapen in die geveg teen kanker, vertel Janine, is om die dokter te vertrou.

Sy vertel dat wanneer die ouers die dokter vertrou, dit ook vertroue in die kind wek en hulle sal saam met die dokter werk en veg teen dié gevreesde siekte.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version