Oud-Polokwaniër aangestel as nuwe Osie-hoof

Wat vir Laerskool Drakensig in Hoedspruit 'n groot verlies is, is eersdaags vir Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) 'n aanwins nadat 'n nuwe hoof vir dié plaaslike skool na bykans twee jaar aangestel is.

POLOKWANE – Wat vir Laerskool Drakensig in Hoedspruit ‘n groot verlies is, is eersdaags vir Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) ‘n aanwins nadat ‘n nuwe hoof vir dié plaaslike skool na bykans twee jaar aangestel is.

Gideon Pelzer, tans die skoolhoof by Laerskool Drakensig, neem volgende maand die Osie-leisels amptelik oor.

Tydens ‘n telefoniese onderhoud met Review was dit duidelik, dié oud-Polokwaniër is gereed vir groot dinge.

“Ek en my gesin is baie opgewonde om te verhuis. Ons is oud-Polokwane-inwoners en kan nie wag om ons weer daar te vestig nie. Ons sien uit na die baie nuwe horisonne.”

Hy is getroud met Ingrid, ‘n gr.1-onderwyser en die egpaar het twee dogters wat die huidige skooljaar in Hoedspruit eers sal voltooi.

Pelzer sien uit na wat hy beskryf as ‘n “wonderlike geleentheid”.

“Ek sien ontsettend uit daarna om hoof te wees van Oosskool. Dit is die top laerskool in Limpopo en die pos is ‘n baie gesogte posisie. Ek sien uit na die nuwe horisonne wat voor ons lê. Ek is baie positief om terug te gaan Polokwane toe. Ek was voorheen as onderwyser aan Suidskool verbonde en het dit baie daar geniet,” sê Pelzer.

Alhoewel hy kontraktueel in die stoel moet wees met die aanvang van die derde kwartaal, meen Pelzer vir praktiese doeleindes sal hy hopelik eers op 1 Augustus kan begin. Hy gesels ook oor die dinge wat hy en sy gesin sal moet agterlaat.

“Soos met enige afskeid is daar dinge wat ons beslis gaan mis. Hier is wonderlike mense in Hoedspruit en die plattelandse atmosfeer is moeilik om te verruil. Die bokke wat bloot op die skool se rugbyveld rondloop en die vlakvarke wat vrylik rondbeweeg, is dinge wat die stad nie bied nie.”

Ondanks dié herinneringe, meen hy is die pos by Oosskool ‘n wonderlike geleentheid wat aan hulle deur kom klop het.

Die waarnemende skoolhoof van Oosskool, Lizette Olivier het by navraag gesê na 20 maande is die skool verheug om ‘n skoolhoof te hê. “Ons wens hom alle voorspoed toe, hy kan verseker wees van ons volle ondersteuning,” het sy gesê.

 

Exit mobile version