Jong vegter wag vir operasie

Op 8 Junie is ‘n spesiale geskenkie gebore. Sy naam is Petrus Johannes, oftewel PJ, van Dyk. PJ het egter probleme, hy is gebore met ‘n gaatjie in sy hart.

POLOKWANE – Op 8 Junie is ‘n spesiale geskenkie gebore. Sy naam is Petrus Johannes, oftewel PJ, van Dyk. PJ het egter probleme, hy is gebore met ‘n gaatjie in sy hart.
“Ek moes op Maandag, 8 Junie opgeneem word in Pietersburg Provinsiale Hospitaal vir ‘n keisersnit wat eers vir Woensdag, 10 Junie geskeduleer was,” vertel sy ma, Madelein van Vollenstee.
“Tydens die opname het die dokters en verpleegpersoneel ‘n monitor op my maag gesit om te hoor of PJ se hartklop normaal is. Hulle het vasgestel dat die hartklop baie onstabiel was.
“Ek is vir ‘n ruk gemonitor waarna die dokter vir my kom sê het dat dit fetale nood is en dat hulle ‘n noodkeiser gaan doen.”
Na sy geboorte is hy dadelik op masjiene gekoppel, onder andere ‘n suurstofmasjien. Die dokters het aanvanklik gedink die probleem lê by sy longe.
“Die Dinsdag het ek my kind vir die eerste keer gesien, die dokter het als aan my verduidelik en gesê dat die probleem nie by die longe lê nie, maar wel sy hart en ‘n spesialis sal sy hart moet ondersoek.
“Na ‘n sonar het die spesialis vasgestel dat daar ‘n gaatjie in sy hart is en dat die hartkamers se pypies omgeruil is.”
Dit veroorsaak dat die bloed en suurstof meng en hy nie genoeg suurstof kan kry nie.
PJ, wat by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gebore is en na die Mankweng hospitaal oorgeplaas is aangesien daar beter geriewe vir pasgebore babatjies is, is nou opgeneem by die Steve Biko Hospitaal waar daar na verskeie X-strale opgetel is dat daar tydens sy geboorte, toe hulle suurstof in sy longe ingepomp het, suurstof na sy maag gegaan het en sy maag vergroot het.
PJ is nou op ‘n drip wat hom voeding gee aangesien Madelein hom nie mag borsvoed nie. Hulle het ook dreineringspypies in sy neus gesit wat tot in sy maag gaan om die suurstof uit te kry.
“PJ is my derde kind en die swangerskap was normaal, sy ousus is vyf en ouboet  drie,” sê Madelein.
PJ is nou in Steve Biko hospitaal waar hy ‘n hartoperasie sal moet ondergaan, sy ouers weet nog nie presies wanneer dit sal plaasvind nie.
Madelein is ‘n tuisblymamma wat daarvan hou om tyd saam haar kinders te spandeer. Wynand van Dyk, PJ se pappa, is ‘n werktuigkundige by ‘n vragmotormaatskappy.
“Ons weet dat als sal goed afloop, die Here gaan die pad saam met ons stap en PJ se handjie styf vashou en ook Sy hand van beskerming oor hom hou, ons glo en vertrou dat sy operasie ‘n sukses sal wees,” sê Madelein.
Die familie het baie mediese uitgawes, enige persoon wat ‘n bydrae wil maak kan dit in die onderstaande rekening deponeer:
Rekeningnaam: Wynand van Dyk.
Rekeningnommer: 2411419635.
Bank: Nedbank.
Takkode: 141148.

Exit mobile version