Bosveld NewsNews

Mynstudie verwerp

DIE omgewingsimpakstudie van Sylvania Platinum om in die Nylsvlei te myn is deur Limpopo se department van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Ledet) geweier.

MOKOPANE – DIE omgewingsimpakstudie van Sylvania Platinum om in die Nylsvlei te myn is deur Limpopo se department van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Ledet) geweier.

EScience wat as die omgewings-konsultante aangestel is, het alle belanghebbendes hiervan in kennis gestel. Ledet het ook die myn versoek om sekere aspekte aan te spreek en dan ‘n gewysigde finale impakstudie verslag teen 19 Julie in te dien.

Emile Honiball, regsverteen-woordiger van die Nylaksiegroep, het vandeesweek gesê Ledet se besluit word verwelkom omdat van die redes wat genoem word juis besware was wat deur die Nylaksiegroep en belanghebbendes geopper was.

Hy sê Sylvania behoort dit nie te oorweeg om platinum naby die Nylvloedvlakte te ontgin nie. Sylvania wil die myn noord van die Nylsvley op die vloedvlakte, sowat 20 km suid van Mokopane begin.

“Hierdie is ‘n uiters sensitiewe gebied en mynboubedrywighede gaan onherstelbare skade aan die rivierstelsel veroorsaak. Die Nylrivier is deel van ‘n unieke ekostelsel met ‘n baie sensitiewe geohidrologie. Hoe sal Sylvania dit kan vervang?” het Honiball gevra.

Die burgerorganisasie, AfriForum, het ook hul tevredenheid met Ledet se besluit uitgespreek. AfriForum sê die departement se weiering is waarskynlik geskoei op die feit dat die impakverslag nie kon uitstippel hoe die mense wat deur die mynprojek geraak sal word, met water bygestaan sal word nie. Die verslag kon ook nie besonderhede gee oor die ontwikkeling van ‘n biodiversiteit- en vleilandafset-strategie nie. Die Waterberggebied is waterskaars, maar spog met uiteenlopende volhoubare sakeondernemings en werksgeleent-hede wat afhanklik is van die suiweringsvermoë van vleilande en ryk waterbronne. Dit moet bewaar word. “Wanneer ‘n omgewingsimpakstudie myn-bedrywighede wegwys, laat dit vrae ontstaan oor die deugsaamheid van mynprojekte in dié sensitiewe natuurlike omgewing,” sê Philip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

“Mynbedrywighede is belangrik vir die ekonomie, maar moet steeds volhoubare bronbenutting én die bewaring van sensitiewe ekostelsels en ekostelseldienste, soos die suiwering van water in die vleilandproses, verseker,” sê Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

“Ons wil die provinsiale departement bedank vir die wyse waarop hulle die impakstudie hanteer het én vir hulle verantwoordelike besluitneming.”

Albert Jordaan, ingenieur van Sylvania Platinum se beoogde Volspruitmyn, sê hy is nie daarvan bewus dat die impakstudie geweier is nie. Sover sy kennis strek is die proses nog besig om aan te gaan en moet die myn aanstaande week nog antwoord op sekere vrae van die department.

Nylsvley spog met 370 inheemse voëlspesies, meer as ‘n 100 spesies daarvan is watervoëls.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button