Pinkie, straatkind wat nie huil nie

Hy is 14 jaar oud, staan net 'n kortkop oor 'n meter lank en vandag is sy verjaardag. Maar daar is geen boodskappies van liefde en vreugde vir hom

POLOKWANE – Hy is 14 jaar oud, staan net ‘n kortkop oor ‘n meter lank en vandag is sy verjaardag. Maar daar is geen boodskappies van liefde en vreugde vir hom in persoon of op ‘n foon nie, want hy het nie ‘n foon nie. Sy naam is Pinkie, hy kan nie sy regte naam onthou nie en baie mense sê hy is so klein soos ‘n pinkie, so vir hom is die naam gepas.

Dis koud en hard waar Pinkie in Polokwane slaap en hy vryf nog die slaap uit sy oë uit op pad na die hoek waar hy “werk”. Hy was gelukkig, die veld naby die plek waar hy werk was oop so hy kon darem ‘n paar uur slaap.

“Gewoonlik is daardie veld gevat maar ek kon hom gisteraand huis noem. Dit was my geskenk vir my verjaarsdag,” vertel hy.

Pinkie is ‘n straatkind, straatlewe is al wat hy ken. Hy is nou sowat ‘n jaar in Polokwane en sorg vir sy twee jonger broers, sy ouers is reeds drie jaar lank soek. “Hulle het my opdrag gegee om na my broers te kyk en dis die laaste wat ek hulle gesien het,”

Hy staan bedags op die hoek van genl. Viljoenstraat en Potgieterlaan, hy maak grappies, vra mooi en smeek meeste van die tyd vir ‘n geldjie om kos te koop. Hy kry soms klere by mense wat verbykom en al is die klere soms te groot vertel hy dat sy gunsteling klere ‘n blou trui is met ‘n blou hemp. “Dit lyk soos skoolklere of polisieklere en dit laat my so mooi lyk. Ek probeer dit oppas maar kan nie die gatjie in die trui regmaak nie. Ek hoop dit gaan lank hou,” vertel hy.

Hy gaan besoek sy broers wat in ‘n landelike gebied ver van die stad af woon en neem soms van die ekstra klere vir hulle saam. “Dis net moeilik om klere en goed te bêre want ek het nie ‘n kas nie. Ek steek dit maar onder ‘n klip weg en hoop dis nog daar as ek weer verby kom,” vertel hy.

Pinkie se eerste R2 kom van ‘n vrou wat hom eers afgejak het en toe die geld na hom gegooi het in die verbygaan. “Ek gee nie om as hulle geld gooi nie. Ek het al erger gekry hier langs die pad. Weggooi babadoeke mooi in plastiek toegedraai, ek het gedink dis kos,” vertel hy en vee die wegholtraan van sy wang af.

“Ek kan nie nou huil nie,” maak hy verskoning en vee met sy vuil hand die traan af.

“Dit help darem om ‘n swart gesig te hê,” vertel hy “want dan sien die mense nie jy huil nie. Hier kan jy nie huil nie. Jy moet lag, grappies maak en soos ‘n nar optree, anders kry jy niks.

“Dit maak nie saak of jou voete bloei van op en af loop in die pad nie en dit maak nie saak of jou bed in die veld vol dorings is nie, jy moet smile,” vertel hy.

Die een motor stop by die verkeerslig en hy stap nader na die half-oop venster. “F@*#,” word hy toegesnou en tree weg van die motor. “Dan sal ek maar so “F@*#” glimlag Pinkie terug.

Die man in die kar kry ‘n glimlag en daar verdwerg Pinkie sy tweede geldjie vir die dag, R5.

Pinkie is een van talle straatkinders wat daagliks hul beste gee om iets te kan eet. Hulle lag en maak grappies met trane in hul oë, maar hulle huil nie. Hulle kan nie, want dan kry hulle nie geld nie. Pinkie stuur van die geld wat hy maak saam met mense vir sy twee broers.

Exit mobile version