Charnique het gemeenskap se hulp nodig

Tydens behandeling is daar vasgestel dat een van haar hartkleppies nie heeltemal toe is nie en dat haar hartjie daarom nie sterk genoeg is om die longinfeksie te bestry nie.

POLOKWANE – Charnique van Heese is ‘n ses-maande-oue dogtertjie wat baie dringend ondersteuning van die publiek nodig het. Sy was op 5 Mei in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal opgeneem met dubbele longontsteking en asma. Tydens behandeling is daar vasgestel dat een van haar hartkleppies nie heeltemal toe is nie en dat haar hartjie daarom nie sterk genoeg is om die longinfeksie te bestry nie.

“Die tweede dag nadat sy opgeneem is het die dokter ons baie slegte nuus gegee, hy het gesê dat sy vreeslik siek is en haar kanse op oorlewing baie skraal was. Ons het ‘n dominee genader om saam ons vir haar herstel te bid, ons het met alles in ons geglo dat sy gaan teen die siekte baklei en regkom en na twee dae was daar ‘n verbetering in haar toestand,” vertel Marina van Heese, Charnique se tannie.

Marina vertel dat Charnique vir ongeveer twee weke onder sedasie was omdat haar hart nie die verhoogde druk kon hanteer nie. Die dokters vermoed dat hulle in ‘n stadium ‘n hart operasie sal moet doen, maar dit is nog nie bevestig nie.

“Na verskeie medikasies en die dokters wat als in hul vermoë gedoen het, bloedoortappings, skanderings en bloedtoetse, was daar ‘n klein verbetering aan haar longe,”

Dinsdag, 26 Mei het sy op haar eie begin asemhaal en op Donderdag, 28 Mei het die dokters heeltemal die suurstofmasjiene afgehaal. Ongelukkig kort voor 15:00 dieselfde dag het sy egter ‘n terugslag gehad en die dokters het haar weer sedeer en haar aan die suurstofmasjiene gekoppel.

“Ons is aanbeveel om haar eerder na een van die spesialishospitale in Pretoria oor te plaas, maar ons is ongelukkig nie finansieël in staat om die koste daaraan verbonde te dra nie. Boonop is die hospitale ook vol en is sy tans saam drie ander babas van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal op ‘n waglys vir opname, dit kan dalk nog ‘n verdere drie maande neem.” Waar sy haar ouers vir lang tye elke dag kon sien, kan sy hulle nou slegs 30 minute op ‘n slag tydens besoektye sien. Marina vertel dat Charnique huil elke keer as sy hulle sien wanneer sy wakker is en dat mens die verlange in haar klein ogies kan sien. “Al wat ons familie vra is vir enige bydrae of gebede om te probeer om haar na ‘n privaat hospitaal oorgeplaas te kry sodat sy dadelik behandeling kan ontvang. Die hospitaal het als gedoen sover hulle kan, maar kan haar slegs stabiel hou en suurstof gee tot sy oorgeplaas kan word na Pretoria. Ons het tot dusver al wonderlike ondersteuning van die gemeenskap af ontvang, ons waardeer alles opreg, woorde sal nooit kan beskryf hoe dankbaar ons is vir die hulp en belangstelling nie. Ons glo en vertrou dat die Here haar gesond gaan maak, ”

Vir enige navrae oor hoe om ‘n bydrae vir Charnique te lewer, kontak asseblief vir Varkie by 082 569 0828.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version