Local NewsNews

Renoster op Dawie Groenewald se plaas gestroop

RC Myburgh >>rc.observer@gmail.com Die vermeende baasbrein van een van die land se grootste renosterstropingsindikate, Dawie Groenewald het Dinsdagoggend self ‘n slagoffer van dié misdryf geword toe een van die renosterbulle op sy plaas gestroop en beide horings afgekap is. Provinsiale Polisiewoordvoerder, Ronel Otto het bevestig dat die saak ondersoek word, maar kon weens polisiebeleid nie …

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die vermeende baasbrein van een van die land se grootste renosterstropingsindikate, Dawie Groenewald het Dinsdagoggend self ‘n slagoffer van dié misdryf geword toe een van die renosterbulle op sy plaas gestroop en beide horings afgekap is.
Provinsiale Polisiewoordvoerder, Ronel Otto het bevestig dat die saak ondersoek word, maar kon weens polisiebeleid nie verder oor die saak uitbrei nie.
Volgens berigte was die bul een van Groenewald se gunstelingrenosters met massiewe horings. Daar word beweer dat die renoster omstreeks 04:30 naby die voerplek geskiet en sy horings afgekap is.
Polokwane Observer het onlangs berig dat Groenewald en sy broer, Janneman deur die Amerikaanse regering van sameswering vir die verkoop van onwettige renosterjagtogte in Suid-Afrika, Amerikaanse jagters wat bedrieg is, geldwassery, e-pos-bedrog en die onwettige smokkel met renosterhorings aangekla word.
Groenewald, sy vrou Sariette, twee veeartse, professionele jagters, werknemers en ‘n vlieënier sal in Augustus weer in die hof verskyn nadat hulle vir die eerste keer in 2010 gearresteer is.
Saam staar die aangeklaagdes ‘n totaal van 1 872 klagte, wat onder meer permitoortredings, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings insluit, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad in die gesig.

Related Articles

 
Back to top button