Editor's choiceLocal NewsNews

Kanker leer jou die waarde van lewe

Gustaf de Beer glimlag wanneer hy oor sy kankerdiagnose praat, maar dis nie oor hy 'n grap daarvan maak of dit ligtelik opneem nie. Vir Gustaf de Beer is kanker ernstig, hy het eerstehandse ondervinding

POLOKWANE – Gustaf glimlag wanneer hy oor sy kankerdiagnose praat, maar dis nie oor hy ‘n grap daarvan maak of dit ligtelik opneem nie.

Vir Gustaf de Beer is kanker ernstig, hy het eerstehandse ondervinding, want vir die afgelope drie jaar is hy besig met ‘n stryd teen kanker. Hy is op die ouderdom van 18 gediagnoseer met breinkanker en later ook met spinale kanker. Vir Gustaf was kanker ‘n siekte vir ou mense en hy vertel dat hy nie kon verstaan hoe hy daarmee gediagnoseer kon word nie. Vandag, drie jaar later, na ‘n endoskoopoperasie, bestraling en chemo wil hy graag sy reis met mense deel.

“Ek wil ‘n verskil maak in mense se lewens. Meeste mense is onkundig wat kanker aanbetref, hulle weet nie altyd hoe om die situasie te hanteer wanneer vriende of geliefdes met kanker gediagnoseer word. Ek hoop om vir hulle uit my storie iets te gee waaraan hulle kan vashou en wat hulle kan gebruik op die pad wat voorlê, dis een dag op en die ander dag af, elke dag is anders.” vertel die 21 jarige Gustaf. Hy beskryf die afgelope drie jaar as wipplank ry.

Gustaf vertel dat sy diagnose hom geleer het om die lewe meer te waardeer. Hy vertel dat kanker hom vyf spesifieke dinge geleer het: Geduld, want jy moet altyd wag vir goeie of slegte nuus.

Liefde, want daar is soveel verskillende maniere waarop mense liefde betoon en waarop hyself ook liefde kan betoon. Deursettingsvermoë, want jy moet aanhou veg. Maar van alles vertel hy dat geloof die een ding is wat ‘n kankerlyer die nodigste het.

“Die belangrikste ding is om te vergewe. Moenie dinge teen mense hou nie. Dit maak jou siek en as ‘n kankerlyer het jy reeds genoeg uitdagings wat oor jou pad kom. Dis beter om ontslae te raak van sulke dinge,” sê Gustaf.

Gustaf vertel dat daar sekere dinge is wat kanker hom van weerhou, maar hy staan nie terug nie. Hy vertel dat sy motivering daarin lê dat hy ‘n baie sterk ondersteuningsbasis het en dat hy vir elke probleem iemand het wie hy kan vra vir ondersteuning.

Hy speel steeds aksiekrieket en het provinsiale kleure daarin verwerf.

“Dis soos ‘n wedloop, soos om die Comrades Maraton te hardloop. Jy kan nie by die eerste waterpunt opgee en nooit weet of jy dit sou maak nie. Jy moet bietjie rus, bietjie aflaai, dan aangaan en klaar maak. Elke mens se eindbestemming is dieselfde. Vir party mense, soos ek met kanker, is dit net bietjie moeiliker,” vertel hy.

Gustaf vertel iets belangrik wat hy graag sal wil oordra aan mense is om iemand wat met kanker gediagnoseer is normaal te behandel. “Daar is niks so erg soos wanner jy begin beter voel en dit goed gaan dat iemand sê ‘ek is so jammer’ nie. Dis nie wat ons wil hoor nie, ons wil lag en lewe, nie herinner word aan die slegte nie,” maan Gustaf.

Sy raad aan mense wat pas gediagnoseer is met kanker en hul geliefdes, is dat jy elke dag moet voluit lewe. “Moenie bekommerd wees oor môre of spyt wees oor gister nie. Jy mors tyd, en tyd is een ding wat baie kosbaar is,” vertel hy.

Hy sê dat hy graag aan almal wil dankie sê vir al hulle liefde, ondersteuning en al die klein dingetjies waarvoor hy nie altyd dankie sê nie. Vir die mense wat iemand aan kanker moes afstaan is sy boodskap om daardie persoon te onthou soos ‘n dapper soldaat wat voluit geveg het.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button