Serala Village-aanvaller op lys van gevreesde misdadigers

RC Myburgh >>rc.observer@gmail.com Alex Simon Talent Chauke is tans op die polisie se lys van gevreesde misdadigers nadat hy positief met die onlangse aanval op en dood van Ignat Oosthuizen in Serala Village verbind is. Sy vingerafdrukke is op die toneel gevind waar Oosthuizen hom doodgebloei het nadat hy met ‘n mes in die nek …

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Alex Simon Talent Chauke is tans op die polisie se lys van gevreesde misdadigers nadat hy positief met die onlangse aanval op en dood van Ignat Oosthuizen in Serala Village verbind is.
Sy vingerafdrukke is op die toneel gevind waar Oosthuizen hom doodgebloei het nadat hy met ‘n mes in die nek gesteek is.
Chauke kan moontlik met nog ‘n aanval Dinsdagoggend in Florapark verbind word, waar dieselfde modus operandi gebruik is en ‘n jong man ernstige snywonde opgedoen het.
Polokwane polisiewoordvoerder, Ntobeng Phala sê ‘n verdagte het Dinsdagoggend by ‘n huis in Sourplumstraat ingebreek.
“’n Jong man, die seun van die gesin, het weens die verdagte se teenwoordigheid in die huis wakkergeskrik. ‘n Stoeiery het tussen die seun en die aanvaller ontstaan waarna die ma wakker geword en ondersoek ingestel het,” sê Phala.
Toe die ma die huis se ligte aanskakel, het die inbreker gevlug. Die pa het ook intussen ontwaak en sy bebloede seun in die voorhuis gevind.
“Die pa en seun is na ‘n plaaslike hospitaal om die diep snywonde aan sy kop te behandel. Intussen het die inbreker terug-gekeer na die huis waar die ma alleen was en twee iPads en ander huishoudelike items gesteel,” sê Phala. Die vrou het vermoedelik tydens sy terugkeer weggekruip.
Volgens Phala is Chauke glo ‘n gereelde ‘besoeker’ aan die polisieselle en is hy voorheen al vir verskeie misdade aangekeer.
“Die laaste adres wat die polisie vir Chauke het, is iewers in Boomstraat waar hy glo steeds woon. Ons vermoed dat hy ‘n Zimbabwiese of Mosambiekse burger is,” sê Phala.
Oosthuizen is dood nadat daar op 5 Mei by sy huis ingebreek is. ‘n Stoeiery het tussen hom en die aanvaller ontstaan waarna hy met ‘n mes in die nek gesteek is en op die toneel doodgebloei het. Sy vrou, Simoné is ook ernstig beseer. Hy is twee weke gelede in Phalaborwa begrawe.
Intussen is nog geen arrestasie gemaak in die inbraaksaak verlede Saterdagoggend waartydens Rita Bezuidenhout (77) in haar huis in Pleinstraat in die bors geskiet is nie. Bezuidenhout en ‘n familielid het wakkergeskrik toe twee gewapende mans gelyk by hul onderskeie kamers instorm. Die vermoede is dat Bezuidenhout gegil het waarna die inbreker glo geskrik en die skoot afgevuur het.
Alle juwele, kontant, huis-houdelike items asook die familielid se motor is gesteel.

Exit mobile version