Local NewsNews

Premiumwyn van die Kaap in Polokwane

ELNA ESTERHUYSEN >>observer.elna@gmail.com Inwoners van Polokwane en Limpopo sal eersdaags weer kan kies en keur met die aankoop van die beste wynvariëteite in Suid-Afrika wanneer die voorste wynmakers uit die Wes-Kaap se topwyn per veiling van die hand gesit word. Die eksklusiewe wynveiling word op 25 Junie by Fusion Boutique Hotel ten bate van die …

ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Inwoners van Polokwane en Limpopo sal eersdaags weer kan kies en keur met die aankoop van die beste wynvariëteite in Suid-Afrika wanneer die voorste wynmakers uit die Wes-Kaap se topwyn per veiling van die hand gesit word.
Die eksklusiewe wynveiling word op 25 Junie by Fusion Boutique Hotel ten bate van die Wiele 500-trust met Wiele 500-ambassadeur, Mathys Roets as eregas aangebied.
Die wins wat die aand gegenereer word, gaan direk vir donasies soos deur die trust bepaal.
Die Robertson-wynvallei lewer van Suid-Afrika se beste wyn met groot en internasionaal-bekende name soos Van Loveren, Graham Beck, Weltevrede, Viljoensdrift en De Wetshof. Heelwat wyn van onder meer die Stellenbosch- en Sederbergdistrik sowel as KWV-brandewyn kom ook onder die hamer.
Wat die veiling meer uniek maak, is dat die wyn en brandewyn wat die aand verkoop word met die hand uitgesoek is en hoofsaaklik uit plaaseienaars se eiesoortige privaatversamelings en premium-uitvoerwyn bestaan wat nie om elke hoek en draai beskikbaar is nie.
‘n Goeie kombinasie van bekostigbare wyn sowel as eksklusiewe duur versamelaarswyn wat moontlik nooit op winkelrakke sal verskyn nie, sal te koop wees.
Tiny van Rensburg, ‘n bekende wynafslaer van die Kaap hanteer die veiling in samewerking met die NG Kerk Robertson-Oos. Van Rensburg hanteer sowat 35 soortgelyke funksies landwyd per jaar.
“Nie net versamelaarswyn nie, maar ook goeie drinkwyn om te geniet en die lewe te vier, sal beskikbaar wees. Ons gemeentelede is ‘n boerdery- en wynbougemeenskap wat weet watter wynmeesters het skaars- en premiumprodukte en dit vir die veiling bekom, ” sê Almo Zietsman, predikant van die Robertson-gemeente wat al die afgelope dekade saam met instansies die gesogte veilings hou.
Wiele 500 is ‘n trust wat bestaan uit ‘n groep passievolle mense wat jaarliks wielebene aan mense in rolstoele gee wat hul lewenskwaliteit wil verbeter ten einde ‘n waardevolle bydrae in die samelewing te maak en so onafhanklik moontlik funksioneer.
Die 500 wat aan die naam gekoppel is, is deel van die aanvanklike idee van die trustees dat enige finansiële bydrae in die vorm van 500 welkom is, hetsy dit 500 sent, R500, R5 000 of R50 000 is.
Die logo beeld inspirasie en lewensinge-steldheid uit. Mense wat deur die trust bevoordeel word, kwalifiseer in terme van die departement van sosiale ontwikkeling nie vir hulp van dié departement nie.
Benewens Roets is die tienmalige wenner van die Boston Marathon in die rolstoelafdeling, Ernst van Dyk ook ‘n Wiele 500-ambassadeur.
Indien iemand belangstel om deel van die spesiale aand te wees, kan Michelle Engel-brecht by 082 303 9111 of Joria Alberts by 082 4110 314 geskakel word.
Polokwane Observer is die mediaborg van hierdie spoggeleentheid.

Related Articles

Back to top button