Lekker warm sopresep om koue winternagte warmer te maak

Jeanette Jooste verduidelik stap vir stap hoe om die sop voor te berei

POLOKWANE – Met die winterseisoen op ons drumpel is daar niks so lekker soos ‘n warm, smaaklike koppie sop nie om die koue winternagte warmer te maak.

Jeanette Jooste begroet die winter met Review deur haar gewilde sopresep met lesers te deel.

“Ek gooi in my pot net dit wat my hart begeer met ‘n tikkie liefde en elke slag is dit ‘n wenresep. Ek meet ook nie my bestanddele af met maatlepels nie, ek meet met die oog en werk volgens smaak. Hierdie is gewoonlik die hoofbestanddele vir my sop: sopvleis (verkieslik beesvleis), wortels, gevriesde sop groente, uie, verskillende pakkies sop, rys, pasta (macaroni), aartappels, sout en peper,” sê Jooste.

Jooste verduidelik stap vir stap hoe om die sop voor te berei:

• Dit is belangrik dat die stoof baie laag gestel word sodat die pot stadig kan prut.

• Sny uie fyn. Kook dan vleis en uie saam met sout en peper in water vir ‘n uur.

• Rasper die wortels en gooi dit by vleis en uie mengsel. Kook tot vleis sag is. Voeg aanhoudend water by tot pot vol is.

• Gooi rou rys en gemengde groente by mengsel en laat dit goed deurkook.

• Sny aartappels in klein blokkies en gooi dit saam die pasta in die pot.

• Wanneer die bestanddele gaar is, voeg verskillende pakkies sop by om mengsel dik te maak. Laat dit deurkook vir so 10 minute en dan is die sop reg om voorgesit te word.

“Ek bedien my sop gewoonlik met broodrolletjies en botter,” sê Jooste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version