Hoe om dierekinders warm te hou

"Hou diere verkieslik binneshuis," vertel Meloney de la Hunt, diereliefhebber en kenner.

POLOKWANE – Alhoewel die dae steeds lekker warm is, begin die nagte afkoel en gryp mens saans en vroegoggend reeds na warm klere.

Mense is egter nie die enigstes wat koud kry nie, al ons dierekinders voel ook die knyp van die wintermaande.

Die troeteldierwinkels en veeartse is vol oulike truitjies vir jou diere sowel as lekker snoesige komberse.

“Hou diere verkieslik binneshuis,” vertel Meloney de la Hunt, diereliefhebber en kenner. “Indien dit nie moontlik is nie, is daar infrarooi lampe wat mens kan inspan om die dierekinders meer gemaklik te maak in die buitelug.

“Dit gebruik nie baie krag nie en ‘n toegedraaide warmwaterbottel of boontjiesak (die soort wat in die mikrogolf verhit word) in hul bed werk ook baie goed.

“Ouer diere verg meer aandag tydens die winter aangesien hulle spiere nie meer so soepel is nie, dit help as mens bietjie hitte en bloedsomloop in die ledemate invryf.”

Diere is vatbaar vir hipotermie en loop ook die risiko dat hulle ore of tone kan vries en permanente skade aanrig. Indien jou diere buite moet bly, moet mens darem sorg dat hulle plek het waar hulle skuiling kan neem wanneer die aande kouer word.

Lugdigte hokke met komberse is ideaal, die hok moet groot genoeg wees vir die dier om gemaklik te kan beweeg, maar steeds sy liggaamshitte behou.

Plastiekbakke is ook beter vir die wintermaande aangesien die temperatuur daal en hulle tonge aan ysterbakke kan vasplak en seerkry.

Exit mobile version