Gerald bak koeke met karakter

“Sorg dat jy nie in ‘n slegte bui is as jy wil bak nie, want anders gaan jou koek flop.” Dis Gerald Janse van Nieuwenhuyzen van Design-a-Cake se raad vir mense wat koek wil bak.

POLOKWANE – “Sorg dat jy nie in ‘n slegte bui is as jy wil bak nie, want anders gaan jou koek flop.”
Dis Gerald Janse van Nieuwenhuyzen van Design-a-Cake se raad vir mense wat koek wil bak. Die ander raad wat hy het, is dat jou meel en eiers vars moet wees. “Dit maak die wêreld se verskil,” sê hy.
Hy behoort te weet: hy het al vandat hy 14-jaar-oud was, saam met sy ouma koek gebak, en sy was op haar dae Pietersburg se baasbakster, volgens Gerald.
“Bak laat my gedagtes ontspan en die oe’s en aa’s as mense hul koeke sien en die prentjies het werklikheid geword, ‘a job well done’, is lekker.”
Hy het al koeke so ver as Kaapstad, Botswana en Zimbabwe gestuur. Tans is hy besig met ‘n groot uitdaging: ‘n 21-laag troukoek, waarvan die onderste laag alleen bestaan uit sewe een meter by een meter koeke. “Hulle gaan spesiaal ‘n koeltrok stuur om die koek te kom haal,” vertel hy en beloof om ‘n foto te stuur.
Daar sal 1 800 mense by dié troue wees.

Hy geniet dit gate uit om te bak en voorsien sowat 15 tot 20 koeke per maand, doelgemaak volgens die kliënt se prentjie of idee, aan mense. Koeke moet ook sowat drie weke voor die tyd bespreek word, want hy is ook hoofsjef by Deco Terrace.
Maar koekbak is sy passie, en die skeppendheid daarvan is dit wat hom genot verskaf: “Ek hou daarvan om iets ‘funky’ te maak. Ek kry ‘n prentjie of ‘n foto en omskep dit in ‘n eetbare koek – en alles op die koek kan geëet word – en ek gebruik my eie resepte 90% van die tyd. Ek bak nie sommer uit ‘n resepteboek nie”.
Verjaarsdagkoeke, trou-en doopkoeke, koeke vir kinderpartytjies en ooievaartees, noem maar op, en hy doen dit.
Die nuutste neigings, vertel hy, is om weg te bly van blommeversierings op die tafel by troues, maar eerder om ‘n koek daar te sit wat lyk soos die boonste laag van die troukoek.
“Dan kan die mense aan tafel dit eet vir nagereg en niemand baklei oor wie die ruiker huistoe vat nie,” vertel hy. “En twee ekstra ‘sidecakes’ word gebak: een vir die bruid se ma; een vir die bruidegom se ma.”
By kinderpartytjies is Barbie uit, deesdae is dit prinseskoeke. Seuns hou van Superman, en Ben10 is ook baie gewild. Oor ‘stout’ koeke wat hy al gebak het vir ooievaarstees en kombuistees wil hy liefs nie uitwei nie.
Troukoeke is altyd uniek, want elke bruid is uniek, vertel hy. Tradisionele koeke raak ook baie gewild: tromme en driepootpotte, kleipot-koeke, selfs tradisionele krale met strooidakhuise. Maar kolwyntjies is te veel werk, meen hy. “Om byvoorbeeld vir 200 “cupcakes” rosies te moet maak? Dan is ek sommer al lank vooruit vol bespreek,” skerts hy.
Resep vir ‘n veerligte sponskoek:
4 eiers.
5ml vanieljegeursel.
415 ml strooisuiker.
550 ml koekmeel.
1 ml sout.
140 ml melk.
140 ml water.
125 ml botter.
20 ml bakpoeier.
• Klits eiers tot lig en donsig, voeg strooisuiker geleidelik by en roer vanielje in.
• Sif meel, bakpoeier en sout saam.
• Plaas melk, water en botter in ‘n beker in ‘n mikrogolfoond tot botter net gesmelt is en roer in by eiermengsel en roer dan die meelmengsel by.
• Mikrogolf vir twee minute op hoog en dan weer vir drie minute.
• Sit waspapier bo-op en laat afkoel.
Versier met versiersel van jou keuse wanneer koek afgekoel het.
Exit mobile version