Dameskring ‘n plek waar vroue geïnspireer word tot vele rolle

"Dameskring se doel is om vroue te inspireer en te bemagtig om hul gemeenskappe te dien en te help uitbou aan ons land," vertel Alita Rose, uitvoerende bestuurder van Dameskring Limpopo.

POLOKWANE – Dameskring is ‘n kultuurorganisasie vir die Afrikaanssprekende Christenvrou.

Hulle bied aan vroue ‘n platform om hul Afrikaans-wees en Christenskap uit te leef en terselfdetyd ook die geleentheid om bemagtig te word deur ‘n verskil te maak in die gemeenskap.

“Dameskring se doel is om vroue te inspireer en te bemagtig om hul gemeenskappe te dien en te help uitbou aan ons land,” vertel Alita Rose, uitvoerende bestuurder van Dameskring Limpopo.

“Die vrou van vandag, is behalwe vir haar vele rolle as eggenote, ma, vriendin en beroepsvrou, ook die steunpilaar van baie ander. Om haar plek vol te staan, moet sy voortdurend geïnspireer en toegerus word.”

Dameskring poog daarin om vroue toe te rus deur opleidingsgeleenthede, takvergaderings, twee-jaarlikse gebiedskonferensies asook ‘n nasionale beraad. Die organisasie bestaan uit 113 takke en het tans ongeveer 1 300 lede landswyd. Polokwane se tak staan bekend as die Eerstegoud tak en het ongeveer 20 lede. Dameskring se fokustema vir 2015 is ‘Kweek Hartsgesinne’. Dameskring vergader maandeliks op vasgestelde tye en die vrouetydskrif, Granaat, word vir hierdie vergaderings aan elke tak voorsien. Tydens takvergaderings word onderwerpe in hierdie tydskrif aangespreek, sodat lede voortdurend toegerus word om daar waar hule leef en werk, ‘n verskil te maak in hul gemeenskap sowel as in Suid-Afrika.

“Dameskring ontvang erkenning en samewerking van baie ander kultuur-organisasies insluitend die F.A.K, die Afrikaanse Taalraad en die ATKV; hulle neem ook deel aan projekte onder andere, die Wêreldbiddag vir Vroue asook die Nasionale Vrouedag,” vertel Magda Thiart, voorsitter van die Eerstegoud Damesklub.

“Ons is vriende en ondersteun mekaar in lief en leed. Ons bid vir mekaar en bemoedig mekaar.”

Die visie van Dameskring is: Geïnspireerde Afrikaanse Christenvroue maak as leiers ‘n verskil in hul gemeenskap en in die breër Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor Dameskring, kontak vir Magda Thiart by 082 974 9800.

Exit mobile version