KLEINSAKE BESIGHEID:Chrissie se lappoppe

Sy maak nie net lappoppe nie, maar ook kombersies, opvoedkundige lapboeke, rokke vir kleuters en ook voorskote vir kinders.

POLOKWANE – By feitlik elke vlooimark in die stad stap ‘n mens verby ‘n tafel met nuwe, outydse lappoppe wat elke dogtertjie se hart laat klop van opgewondenheid.

Hierdie tafel behoort aan Chrissie Schulz. Sy maak nie net lappoppe nie, maar ook kombersies, opvoedkundige lapboeke, rokke vir kleuters en ook voorskote vir kinders.

“Ek het jare terug op die plaas begin naaldwerk doen. Twintig jaar gelede het ons die plaas verkoop en toe het ek ernstig met die naaldwerk begin,” vertel sy. “Ek koop my materiaal self aan, niemand gee dit vir my nie. Die lappoppatroon het ek gekry toe ons ‘n pop by die Uniegebou opgetel het.”

Chrissie vertel dat sy en haar suster die ou pop los gesny het en die patroon afgetrek het. Van daar af maak sy elke pop op dieselfde patroon en sy vertel dat dit ‘n baie gewilde item is om te verkoop.

“Ek maak ook kleiner poppies, maar dit vat effens langer. Die voorskoot wat ek maak het sakkies op waarin die kinders ‘n boekie en ‘n potlood of selfs ‘n verfkwas kan sit. Die opvoedkundige lapboeke wat ek maak leer kinders hoe om knope vas te maak, veters te ryg en klein goedjies vas en los te maak.”

Sy maak ook klein kwilts maar vertel dat dit “harde werk” is.

“Ek wil graag iemand leer hoe om hierdie goed te maak. My kinders is seuns en hulle kinders stel nie regtig belang nie. Ek weet ek gaan dit nie vir ewig kan doen nie, en daarom sal ek graag iemand wil leer om by my oor te vat,” vertel sy.

Exit mobile version