Arnold verdien ekstra inkomste met sy heerlike naweekpassie

Sy naweek-passie het gelei tot 'n groeiende onderneming wat sorg dat die atlete wat die Pietersburg Stoeiklub se dienste gebruik nie hoef te bekommer oor hongerpyne of spierpyne nie.

POLOKWANE – Sy naweek-passie het gelei tot ‘n groeiende onderneming wat sorg dat die atlete wat die Pietersburg Stoeiklub se dienste gebruik nie hoef te bekommer oor hongerpyne of spierpyne nie.

Arnold Coetzee, ‘n plaaslike inwoner van die stad, se klante is hoofsaaklik atlete wat van die Pietersburg Stoeiklub gebruik maak waar hy die klub se kombuis gebruik om heerlike kos teen billike pryse te verskaf.

Sy spyskaart bestaan onder andere uit hamburgers, worsrolletjies, pasta met maalvleis en natuurlik ook aartappelskyfies. Hy noem dit die PSAK-Kombuis.

“Ek is ‘n stoeiafrigter en die projek het laat verlede jaar begin toe ek versoek is om stoeiers te kom afrig. Die onderneming het begin in ruil vir vergoeding,” vertel hy waar ons in sy kombuis sit en kuier.

Sy pryse op die hamburgers wissel tussen R20 vir die goedkoopste en R40 vir die grootste een; kookkos is ook beskikbaar op aanvraag en jy kan jou dors les met die yskoue koeldrank wat hy verkoop.

“Inwoners van Ons Tuiste kom loer ook gereeld in om kos te koop, daarby het die instap-kliënte ook begin toeneem en die besigheid, as mens dit so kan noem, groei vinnig.”

Arnold vertel dat hy nie ‘n kok is nie, maar dat hy maar oor naweke by die huis sy passie vir kosmaak ontdek het.

Sy vrou help hom smiddae na werk met aflewerings aan Ons Tuiste. “Later van tyd sal ek moontlik ‘n afleweringsdiens kan bied aan alle kliënte, maar in hierdie stadium is dit moeilik.”

Met die gewildheid van sy hamburgers beplan Arnold om ‘n kompetisie by die skole te loots waar hy R5 skenk aan die skool vir elke hamburger wat hulle koop.

Die kombuis se handelstye is gewoonlik van 10:00 tot 19:00 gedurende die week en Saterdae tot 13:00.

Tye is finansieel swaar deesdae, met talle inwoners wat dit moeilik vind om werk in die formele sektor te kry. Baie maak ‘n plan om ‘n ekstra inkomste te genereer deur ‘n bepaalde diens aan te bied, of produk te lewer, in die informele sektor (sommer van die huis af). Review ondersteun hierdie pogings van mense wat hand in eie boesem steek en ons plaas graag hulle stories gratis. As jy so ‘n entrepreneur is, of van een weet, stuur ‘n e-pos aan hilda@nmgroup.co.za met ‘n kort beskrywing en kontakbesonderhede. Ons hoor graag van jou.

 

KLEIN ONDERNEMING: Waar inlê nie laatlê is nie

KLEINSAKE: Spanwerk sorg vir ekstra inkomste

Exit mobile version