PIENKVOETJIES: ‘Sy is ons eerste mensekind, ‘n present’

Sy is op 24 April met 'n keisersnit in die lewe gebring en het 2,3kg geweeg en was 49cm lank.

POLOKWANE – Laat in April het Lenise Fouché haar opwagting gemaak nadat haar ouers, Minelise en Llewellyn vir twee jaar beplan het en toe nog nege maande moes wag.

Sy is op 24 April met ‘n keisersnit in die lewe gebring en het 2,3kg geweeg en was 49cm lank.

Sy is nie haar ouers se oudste kind nie, alhoewel sy hul oudste mensekind is, en Minelise vertel dat hulle haar hondeboeties en -sussie maar vir eers op ‘n afstand hou.

“Die katte sal nader kom en aan haar ruik, en nuuskierig loer as sy geluide maak, maar vinnig weghardloop as sy te vreemd begin klink.” Minelise vertel dat sy baie opgewonde was toe sy uitgevind het sy is swanger. “Ek het die vrou wat saam met my werk eerste vertel, aangesien sy saam met my was toe ek die swangerskaptoets gaan koop het. Toe gaan koop ek ‘n vessie en babaskoentjies wat ek op die bed neergesit het. Ek het vir Llewellyn gebel en gesê ek het vir hom ‘n verrassing en toe hy by die huis kom, het ek sy oë toe gedruk tot hy by die kamer is en hom dit toe laat sien.”

Llewellyn glimlag en vertel hy was woordeloos toe hy dit sien. Dit was vir hom die beste verrassing in ‘n lang tyd. Die ooievaarstee was vir Minelise ‘n heerlike partytjie en die grootste verrassing was haar suster wat in die Kaap bly, se besoek. “Ek het heelwat onsekerhede en vrese gehad gedurende my swangerskap. Ek was veral bang vir ‘n miskraam. Maar Llewellyn en my een vriendin het my baie ondersteun. Sy het reeds twee kinders gehad en ek kon enige tyd op haar knoppie druk.” Minelise sê sy het nie enige vreemde kosdrange gehad nie, maar dat die reuk van vleis haar tot op 12 weke baie naar gemaak het. Haar oggendnaarheid was ook eerder teen laatmiddag en het gelukkig net vir agt weke geduur. Minelise het eers op 22 weke begin wys dat sy swanger is en kort voor Kersfees het Lenise die eerste keer begin skop. Dit het alles ‘n groter werklikheid begin maak vir haar ouers.

“Ek het ‘n baie maklike swangerskap gehad. Die laaste trimester het ek net soms krampe in my kuite gekry. Lenise is ‘n maklike baba. Sy huil nie regtig nie en slaap baie.”

Haar eerste speelding is ‘n groot pienk unicorn, maar sy het ook reeds verskei ander speelgoed soos ratels. Badtyd is ‘n fees vir beide ouers en baba en die enigste aanpassing wat hulle moes maak is hul slaaproetine. “Ouerskap is ‘n groot verantwoordelikheid. Ek sal graag wil hê sy moet eendag iets soos gimnastiek of akrobatiese danse doen.” Lenise se naam is ‘n kombinasie van haar ouers se name en beide stem saam dat sy net ‘n plesier is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version