Double M moet maar versigtig wees met komende verkiesing

Bosveldpraatjies

MOKOPANE – Die DA het toe hul kongres gehou, ‘n nuwe leier gekies, lekker gedans, nog lekkerder retoriek gepleeg en met ‘n hofbevel His Masters Voice (die SABC se kanaal twee) geforseer om dit alles uit te saai.

Dit laat my so aan die politiek van die ou dae dink. Daar is egter ‘n paar opmerklike verskille tussen toe en nou. Die kleur van die gesigte destyds was leliewit en stroef teenoor vandag se smartieboks vrolik, terwyl daardie jare se Groot Gevaar in kleur, swart of rooi, nou ‘n naam gekry het – Zuma. Van ons president gepraat, ek wonder hoe hy dit op Moedersdag reggekry het om vier vroue gelukkig te hou. Ek meen, teen die tyd dat hy met koffie en ontbyt-in-die-bed by die vierde een se kateltjie kan opdaag, is dit alreeds weer tyd vir aandete by nommer een.

Dit lyk mos vir my lekker, deesdae se politiek. O liewe land, kan jy jou die prentjie voorstel as destyds se politici hulle lywe so op ‘n verhoog sou moes rondgooi as wat vandag s’n dit doen. Die aarde se fondamente sou gekraak het, die hemel sou geval het en ons sou almal blou mussies tot in ewigheid gedra het. Oom John (Vorster) wat vir Tannie Tina vra vir ‘n walsie of PW met sy Elize wat met ‘n vastrap die een hoek van die verhoog beset en nie ‘n duim beweeg nie.

Ek lees dat ‘n voormalige hoofspioen van die land reken dat hy feitlik man alleen die land gered het, darem met so ‘n bietjie hulp van PW se kant af. So tussendeur het hy ook ‘n paar ministers aangespreek oor hul gekafoefel in Parys met vroulike lede van die Rooi Gevaar van destyds. Lyk my al wat van hulle oorgebly het – dis nou die rooi gevaar – is oom Blade, wat maar nie kan verstaan waarom die Israeli’s hom nie by hulle wil laat kom kuier nie. Hy is net heelwat meer luiddrugtig daaroor as wat die Dalai Lama was toe hy nie vir Oom Desmond Tutu kon kom kuier het nie.

Maar om terug te kom na die politiek. Ek hou nogal van die nuwe gesig van die DA. Die mannetjie ken van praat en hy het net een vrou en is ‘n dominee wat beteken dat ons minstens net 40 % van sy politieke uitsprake hoef te bevraagteken teenoor die huidige nommer een se 110% . Daarby was Mmusi Maimane darem al twee keer in Mokopane om die munisipaliteit se gemors hier te probeer help uitsorteer. Die SAPS het hom sy grondwetlike reg ontneem om ‘n parlementêre oorsig besoek aan ons munisipaliteit te bring en hy het die einste munisipaliteit in die parlement aangespreek oor hul politieke leiers meer begaan is ook hul eie sakke as oor die wel en wëe van die kiesers. Hy is bereid om na die volk te luister as hulle sou sê dat die grondwet ‘n opgradering oor die doodstraf nodig het.

Opwindende dae wat voorlê. Ek sien nogal uit na volgende jaar se verkiesing. Die groot Double M moet egter op sy hoede wees. Hy is nie in ‘n pos waar hy met ‘n goue handdruk die swye opgelê kan word soos wat hy al meer op hogere tone gaan begin trap nie. En ‘n dodelike skaking is tog so ‘n maklike ding om te reel, veral met die dat misdadigers deesdae hul lywe al meer polisieman in uniform begin hou en die polisie in uniform hul lywe al meer misdadiger hou. Vra maar vir die Kebbles.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version