Ou motors en ‘n tjoppie sorg vir samesyn

MET 'n uitstalling van prag veteraanmotors en die deel van top braaigeheime deur die bekende Jan Braai was die Piet Potgieter Ouetehuis se Veteraanmotorskou verlede Saterdag 'n groot sukses.

MOKOPANE – MET ‘n uitstalling van prag veteraanmotors en die deel van top braaigeheime deur die bekende Jan Braai was die Piet Potgieter Ouetehuis se Veteraanmotorskou verlede Saterdag ‘n groot sukses.

Daar was kreatiewe naaldwerk, heerlike gebak en smaaklike kos te koop en met die braaivleisvure wat sommer vroegoggend reeds gebrand het, het oud en jonk ‘n hond uit ‘n bos gekuier.

Jan Scannell, alombekend as Jan Braai en die brein agter SA Braaidag, was die eregas by die veteraanmotorskou en Bosveld het die voorreg gehad om hom ‘n bietjie beter te leer ken.

Jan het groot geword in Stellenbosch en sy liefde vir braai het reeds as kind ontstaan toe hul Sondae by sy grootouers ‘n skaaptjoppie en ‘n braaibroodjie oor die kole gegooi het.

“Dit is my eerste keer in Mokopane en ek is aangenaam verras oor die groote en die netheid van die dorp. As ek kan raad gee aan die res van die Suid-Afrikaners wat die winter ‘n mis wil gee moet hul in plaas van Europa toe vlieg eerder kom toer in die Limpopo,” sê Jan.

Mariana van Tonder, bestuurder van die Piet Potgieter Ouetehuis, sê: “Die dag was ‘n reuse sukses en het selfs meer voete as verlede jaar getrek. Die naaldwerk en gebak tafel het ‘n wins van R10 500 gemaak en meeste van ons worsbroodjies het uitverkoop. Baie dankie vir almal wat die dag ondersteun het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version