Local NewsNews

Hoërskool Pietersburg voeg daad by woord

Leerders van Hoërskool Pietersburg is onlangs die erns van die skool se beleid teen dwelms bewys toe die hoof van die skool, Willie Schoeman, 'n klopjag saam met lede van die polisie by die skool uitgevoer het.

POLOKWANE – Leerders van Hoërskool Pietersburg is onlangs die erns van die skool se beleid teen dwelms bewys toe die hoof van die skool, Willie Schoeman, ‘n klopjag saam met lede van die polisie by die skool uitgevoer het.

Schoeman wat welbekend is vir sy uitgesprokenheid teen dwelm- en drankgebruik binne skoolverband, het ‘n handvol polisiebeamptes deur die skool geneem om tasse te deursoek.

“Die beleid wat die skool het teen die gebruik van drank en dwelms is van groot erns en met hierdie aksie wil ons die leerders sowel as die ouers bewus maak dat die skool by niks sal stuit om leerders se opvoeding en veiligheid te verseker nie,” het Schoeman gesê.

In die skoolbeleid staan daar dat in ooreenstemming met die hersiene skolewet, enige leerder getoets mag word vir die misbruik van onwettige middels, of deursoek word na die diskresie van die skoolhoof.

Dit sluit die deursoek van skooltasse en sportsakke in, en mag gedoen word deur die hoof self of enige persoon deur die hoof hiertoe gemagtig.

Polokwane polisiewoordvoerder kapt. Nthobeng Phala het klem gelë op die belang van opvoeding van leerders in skole oor die gevare van dwelms en die belangrikheid daarvan om op te tree teen enige iemand wat die wet in die verband oortree.

“Wanneer leerders van skooldae af reeds op die regte pad gebring word, veroorsaak dit ‘n ingekweekte bewustheid van reg en verkeerd,” het Phala gesê.

Related Articles

Back to top button