​DA-raadslid sê lid van ANC wou hom omry

’n DA-raadslid van Limpopo beweer ’n ANC-wyksraadslid het hom Woensdag ten tyde van die Tubatse-tussenverkiesing probeer omry.

LIMPOPO – ’n DA-raadslid van Limpopo beweer ’n ANC-wyksraadslid het hom Woensdag ten tyde van die Tubatse-tussenverkiesing probeer omry raporteer Netwerk24.

Beyers Smit het klagte van poging tot moord en crimen injuria teen Eddie Maile, ANC-raadslid van wyk 18 in Tubatse, by die polisie ingedien.

Smit het gesê ANC-lede het van vroeg af ANC-hemde voor die Mafemane Primary School in Burgersfort aan kiesers uitgedeel. Hy het by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) daaroor gekla en dit is gestaak.

Later die dag is ANC-T-hemde glo weer uitgedeel en Smit wou dit met sy selfoon afneem.

’n Groep mense, onder andere Maile, het toe glo op Smit afgestorm en gesê hy mag dit nie doen nie.

“Ek is geskel en gevloek. Ek verstaan Pedi en weet wat al die kru taal beteken. Toe wil hulle my foon by my vat en ek het gesê dit sal nie gebeur nie.”

“Ek moes uit die pad spring, anders sou hy my getref het”

ANC- en DA-lede het mekaar toe in die hare gevlieg. Smit het weggestap om die OVK in die stemlokaal te laat weet wat buite aangaan.

Die volgende oomblik het Maile glo in sy silwer BMW op Smit afgejaag.

“Ek moes uit die pad spring, anders sou hy my getref het.”

Maile het met skreeuende bande weggejaag.

Die DA het toe die polisie laat kom.

Lees vol storie

Exit mobile version