Spesiaal by die huis om Ma te bederf dié Moedersdag

Vir die eerste keer in 19 jaar is Sonja Randall en haar man, Andrew se huis stil en leeg. Hulle seun Henry het in Januarie nes verlaat, sy vlerke gesprei en by die Universiteit van Pretoria aangesluit.

POLOKWANE – Vir die eerste keer in 19 jaar is Sonja Randall en haar man, Andrew se huis stil en leeg. Hulle seun Henry het in Januarie nes verlaat, sy vlerke gesprei en by die Universiteit van Pretoria aangesluit.

Sonja Randall sien uit daarna om haar seun Henry by die huis te hê dié Moedersdag. Foto: Verskaf

“Ek het eers gedink hierdie jaar gaan die eerste jaar wees wat my kind nie by my gaan wees vir Moedersdag nie, maar hy het my verras en laat weet dat hy wel vir die naweek huis toe kom,” vertel Sonja baie opgewonde.

Henry is haar oudste en enigste en sy vertel dat sy vreeslik na hom verlang. Gelukkig is daar selfone en rekenaars en kan hulle maklik met mekaar kommunikeer. Maar dit maak die gemis nie makliker nie.

“In ons huis word Moedersdag behoorlik gevier. Henry doen baie moeite, hy het die laaste paar jaar ‘n foto en musiek skouspel gemaak. Dit laat my hart sommer warm klop.En ‘n ma maak mos nie kos op Moedersdag nie, so ons gaan eet ook elke jaar uit.”

Maar hierdie jaar gaan die tradisie bietjie verander. Hulle beplan om by die huis te kuier en ook die Saterdagaand voor Moedersdag te kuier in plaas van Moedersdag self, aangesien Henry weer Sondag moet terug universiteit toe. Hy het glo reeds sy gunsteling disse bestel vir die spyskaart. Wat dan anders as sy ma se spesiale knoffelbroodjies en fillet-sosaties. “My en Andrew se ma’s asook sy ouma lewe nog en ons probeer die dag ook vir hulle spesiaal maak. My ma bly in Beaufort-Wes en Andrew se ma in Tzaneen. Ek glo aan geskenke wat lank sal hou, ek is lief daarvoor om vir hulle subskripsies te koop vir hul gunsteling tydskrifte.” Sonja glo dat ‘n ma baie spesiaal bly, maak nie saak wat nie. “‘n Mens besef eers werklik hoe spesiaal ‘n ma is wanneer jy self een is.”

Met ‘n glimlag vertel Sonja dat die lekkerste van ma-wees vir haar is om te sien watter invloed jy het oor wie en wat jou kind eendag gaan wees. Die moeilikste is om balans te handhaaf tussen om die kind te beskerm en hom toe te laat om te groei.

“Ek het ‘n seun weggestuur universiteit toe, en die eerste naweek wat hy huis toe gekom het, het ‘n man by my voordeur ingestap.”

 

Exit mobile version