Basta met boelies, sê hoofde

"MY kind word geboelie, wat kan ek daaraan doen?"

MOKOPANE – “MY kind word geboelie, wat kan ek daaraan doen?”

Dit is ‘n vraag wat op die gewilde sosialeblad Facebook deur ‘n besorgde ma gevra is. ‘n Menige ouer het op die vraag kommentaar gelewer en dit was duidelik dat boeliegedrag ‘n tendens is wat wêreldwyd toeneem.

Ook hier op Mokopane loop daar boelies rond en is daar kinders wat slagoffers is. Volgens ‘n artikel deur Karien Schoeman, ‘n spelterapeut in die Wellington terapeutiese en beradingsdienste, is ‘n boelie ‘n kind of ‘n groep kinders wat hul mag misbruik om ‘n ander kind of kinders op ‘n herhaaldelike basis met opset seer maak, te verneder of uit te sluit.

Die volgende drie elemente is altyd teenwoordig: die doelbewuste gebruik van direkte of indirekte aggressie, ongebalanseerde magsverhouding tussen die boelie en slagoffer en fisiese en/of emosionele pyn soos ‘n swak selfbeeld, mismoedigheid en angstigheid by die slagoffer.

Daar is twee soorte boeliegedrag naamlik, direkte boeliegedrag wat verbaal en geskrewe is – konfronterende aanvalle wat dreigemente, intimidasie en afknouery insluit en fisiese direkte boeliegedrag wat aktiewe aggressie, stamp, skouer, pootjie, direkte konfrontasie insluit.

Die tweede is indirekte boeliegedrag wat sielkundige en sosiale boelie insluit,meer subtiele vorms van afknouery soos gebare, verbale afknouery, verspreiding van gerugte, skinder en fisieke indirekte boeliegedrag sluit in ‘n vorm van passiewe aggressie, dit ismoeliker om raak te sien en te hanteer, dit is agteraf ‘n vorm van indirekte konfrontasie.

Karien vertel dat ‘n kind ‘n boelie raak vir verskeie redes onder meer, emosionele behoeftes wat nie bevredig word nie, gebrekkige binding met ouers, rebelse kinder-egostaat en ‘n gevoel van minderwaardigheid.

Kinders word die slagoffer van boelies ook vir verskeie redes waarvan ‘n lae selfbeeld, afwesige pa/ma, emosionele en gedragskorrektheid bo alles, kleiner, vetter, maerder uniek en ‘n oorbetrokke ouer ‘n paar van die redes is.

Wanneer ‘n kind geboelie word lei dit tot verhoogde skoolvrees, minderwaardigheidskompleks, ontwikkeling word benadeel, gevoel van eensaamheid, sosiale isolasie, kommunikasieprobleme en depressie.

Raad aan die slagoffer se ouers:

Luister eers voor jy raad gee of vra.

Jou kind moet weet dat hy met jou kan praat sodat hy niks vir jou wegsteek nie.

Moenie wys jy is ontsteld of elke dag uitvra nie.

Moenie jou angstigheid aan jou kind oordra nie.

Gee egte, positiewe raad, jou kind moet weet jy verstaan.

Kontak die skool en laat jou kind dit weet.

Stel die boelie se gedrag vir jou kind in konteks.

Fokus op jou kind se sterkpunte bou aan sy selfbeeld.

Maak seker jou kind leer om homself te aanvaar soos hy is. Hy moet ook aanvaar dat daar altyd boelies in die lewe gaan wees en dat hy net moet leer om hulle met selfvertroue te hanteer.

Raad aan die kind wat geboelie word:

Moenie vir die boelie wys dat jy ontsteld of hartseer is nie, hy soek ‘n reaksie.

Wees ferm.

Omskep ‘n aanmerking in ‘n grap bv. indien jy gesport word oor jou lengte sê,”Jy is heeltemal reg, ek is vreeslik kort. Dis geneties, weet jy!”

Onthou jy is nie die een met die probleem nie, die boelie is.

Moenie wraak beplan nie.

Lyk selfversekerd.

Maak nuwe vriende.

Bosveld het verskeie skole gekontak om te hoor hoe hulle boelies hanteer. “Hoërskool Piet Potgieter handhaaf ‘n baie streng waardestelsel en boeliegedrag word nie geduld nie! Indien ‘n voorval ontstaan neem ons dadelik dissiplinêre stappe om die saak op te los en te voorkom dat die insident weer plaasvind. Boelies is nie welkom in ons skool nie,” sê Jas Hansen, skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter.

“Ons het ‘n streng boeliestelsel en waardestelsel in plek en ons het geen toleransie vir boeliegedrag nie,” sê Johan Vertongen, skoolhoof van Laerskool Krugerpark.

Al die skole vra dat indien jou kind ‘n slagoffer van boeliegedrag is maak ‘n afspraak met die onderwyser en hoof en hulle sal onmiddellik optree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version