Editor's noteLocal NewsNews

Afrikaans, die mooiste taal

Review het met Afrikaans onderwysers van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Hoërskool Pietersburg en Laerskool Pietersburg gesels en vir hulle gevra wat hul gunsteling Afrikaanse woord is en watter idioom die meeste indruk op hulle maak.

POLOKWANE – Suid-Afrika het 11 amptelike tale waarvan Afrikaans een is. Dié taal is 90 jaar gelede op 8 Mei 1925 die eerste keer as ampstaal deur die parlement verklaar, met gelyke regte as Engels. Twee van Polokwane se inwoners, Johan en Corrie Willemse, gaan more ‘n taalberaad by Monumentkoppie in Pretoria bywoon as afgevaardiges van die Rapportryerbeweging ter viering van Afrikaans.

Review het met Afrikaans onderwysers van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Hoërskool Pietersburg en Laerskool Pietersburg gesels en vir hulle gevra wat hul gunsteling Afrikaanse woord is en watter idioom die meeste indruk op hulle maak.

“My gunsteling woord is beslis pampier-vampier wat ‘n krambinder is. Dit is vir my baie kreatief,” vertel Carla de Jager wat Afrikaans gee vir gr. 8- en gr.9-leerders. Haar gunsteling idioom is elke dassie kry sy kwassie. “Vir my beteken dit dat elke mens talente het waarop hy of sy trots is. Behalwe dat dit baie mooi rym, laat dit my ook besef dat elkeen van ons ‘n plekkie in die son het.”

Retha Kilian wat Afrikaans vir gr. 9 en gr. 11 aanbied vertel dat die woord rampokker vir haar ‘n mooi woord is aangesien dit so lekker oor die tong rol. “Ek gebruik graag die uitdrukking mooi broodjies bak. Vir my beteken dit jy gebruik woorde om iemand te vlei of om guns te wen. Soos as die leerders nie hul huiwerk gedoen het nie.”

Anne Pienaar gee Afrikaans vir gr. 10- en gr. 12-leerders en vertel die uitdrukking om muisneste te hê is haar gunsteling. “Die leerders moet leer en nie vry nie. Dit is waarom ek so baie van dié uitdrukking hou. My gunsteling woord sal glimpen wees. Ons adjunkhoof gebruik dit altyd en dan ruk die leerders gewoonlik hulle nekke af.”

Ina van der Merwe is departementshoof van Afrikaans by PHS en gee vir gr. 12’s klas.

Haar gunsteling woord is holderstebolder. “Dit beskryf wanneer jy baie werk het en oral probeer raakvat hoe jou dag is.” Nog ‘n woord waarvan sy baie hou is welgedaan aangesien dit ‘n woord is wat mense laat goed voel oor hulself en hul werk. Haar gunsteling idioom is as die kat weg is, is die muis baas, want dit is volgens haar presies hoe dit gaan as die skoolhoof nie daar is nie.

“Ek hou van die idioom skouer aan die wiel sit want sonder harde werk kom jy nêrens. My gunsteling woord is babbel, omdat dit so lekker sê,” vertel Zelda van Jaarsveld wat ook Afrikaans vir gr.12 gee.

Melanie Jooste gee Afrikaans vir gr. 9 en hou van die woord toeter omdat dit so lekker sê. Haar gunsteling idioom is van die hand na die mond val die pap op die grond. “Dinge verander so vinnig. Van nou tot net nou kan enige iets verkeerd loop. Niks gebeur wat nie deur die Here beplan is nie.”

Marisa Wepener is ‘n Afrikaans onderwyseres vir gr.5 leerders en vertel dat sy gereeld vir haar leerders sê hoe meer haas hoe minder spoed, wat beteken hoe haastiger jy is, hoe minder kry jy gedoen. Ook haar woord is holderstebolder. “Ek gebruik die woord nogal baie.”

Om die bul by die horings te pak is vir Elmien Howland, ‘n gr.6-Afrikaansonderwyseres van toepassing. “Anders gaan hy jóú pak,” vertel sy. Die woorde wat sy die meeste gebruik is bly stil.”

Charlotte van den Berg is die gr. 7 Afrikaans onderwyser by Suidskool. Die woorde lekker en pamperlangpraatjies is vir haar oulike Afrikaanse woorde, asook lekker.

“‘n Pak op sy tyd is soos brood en konfyt is ‘n idioom wat vir my baie sin maak. Die Bybel sê immers tugtig die wat jy liefhet,” vertel sy al skertsend.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button