NewsSchools

Waardeer-jou-onnieweek: jongspan vertel van ‘juffrou’

Onderwyserwaarderingweek word gevier van 4 Mei tot 8 Mei en Review het met 'n paar kinders gaan gesels oor waarom hul juffrou vir hul belangrik is.

POLOKWANE – Elke oggend staan sy vroeg reeds voor haar klas se deur en wag met ‘n warm glimlag vir elke leerder wat by haar klas in stap.

Hier en daar vee sy ‘n traan af en gee ‘n drukkie of ontvang ‘n papgedrukte vrug of gesteelde blommetjie. Haar naam is ‘juffrou’ en vir leerders wat pas met skool begin het, is sy hul alfa en omega. Onderwyserwaarderingweek word gevier van 4 Mei tot 8 Mei en Review het met ‘n paar kinders gaan gesels oor waarom hul juffrou vir hul belangrik is.

Matlou Meso.
Matlou Meso.

Matlou Meso is in Laerskool Pietersburg-Noord in gr. 2 en kan nie uitgepraat raak oor sy juffrou. “Sy is baie mooi en slim en party dae is sy selfs slimmer as my ma, maar nie altyd mooier nie. Sy leer my die dinge wat my ma en pa nie weet nie en dit maak my slimmer as hulle,” vertel hy. Hy glo nie hy wil ooit ‘n ander juffrou hê nie en wil die res van sy skoolloopbaan net in haar klas wees.

Ariel Brown.
Ariel Brown.

Ariel Brown van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum is vier jaar oud en vertel dat sy ‘n baie vriendelike juffrou het wat nooit met hulle baklei nie. “My juffrou is Chantelle Wilgers en ek soek nooit ‘n ander juffrou nie.”

Tsepiso Leboho.
Tsepiso Leboho.

Tshepiso Leboho in gr. 2 in Laerskool Pietersburg-Noord vertel dat sy graag eendag soos haar juffrou wil wees. “Al die kinders in die klas hou baie van haar en sy kry lekkers en koeldrank by hulle as hulle pouse by die snoepie was. Sy leer ons slim en eendag kan ons ook kinders slim leer,” vertel sy. Sy glo ook dat daar elke week ‘n spesiale dag vir haar juffrou moet wees want sy is spesiaal.

Tanya Monye.
Tanya Monye.

Tanya Monye is ‘n gr. 2-leerder in Laerskool Pietsrburg-Noord en vertel dat sy baie van haar juffrou hou omdat sy die slimste mens is wat sy ken. “Sy leer my om somme te maak en leer my om in ‘n ander taal as my huistaal te kan praat en skryf. Daar is nie baie mense wat ek eendag na my troue toe sal wil nooi nie maar ek sal my juffrou vat,” vertel sy.

Jason Buys.
Jason Buys.

Jason Buys is ‘n vierjarige kleuter by Osieteddies en in juffrou Jackie Smith se klas.

Hy vertel dat sy juffrou vir hulle soetgoed gee en die oulikste is en daarom wil hy nie ‘n ander juffrou hê nie. “Juffrou Jackie is nie kwaai nie. Ek wil vir altyd in haar klas wees.”

Ruben Braack.
Ruben Braack.

Osieteddie Ruben Braack (5) wys skaam na sy juffrou want hy het vir ‘n oomblik vergeet dat haar naam Chantelle is.

Hy weet egter dat hy stroopsoet is en daarom is sy nie kwaai met hom nie. “Ek soek nie ‘n ander juffrou nie. Sy is die beste wat ek het.”

Review het ook met Lukie Sekowe, ‘n gr. 2-onderwyseres by Laerskool Pietersburg-Noord gesels oor die spesiale week.

Sy sê: “Daar is nie genoeg dank vir onderwysers vir die werk wat hulle doen nie. Ons as onderwysers is die grootste rolspelers in die bou van die toekomsleiers en ons doen dit uit een ding en een ding alleen – ons liefde vir kinders en die behoefte om hulle te sien groei in sterker en beter mense.

“Ons as onderwysers waardeer dae en weke soos Onderwyserwaarderingweek, want dit herhinner ons aan die belangrike rol wat ons speel en laat ons besef ons word waardeer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button